DIE EERSTE KRUISWOORD

DIE EERSTE KRUISWOORD

DIE UITSTEL VAN DIE OORDEEL

Lukas 23:34: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.

Die eerste kruiswoord verplaas ons in die gees na ’n klein klipkoppie buite Jerusalem.  Dit is ’n aaklige plek waar doodvonnisse voltrek word oor ongewenste persone wat met veragting uit die samelewing uitgestoot word.

Daarheen is Jesus ook gebring om gekruisig te word.  Daarheen is Hy gebring soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders.  En tog, as die Romeinse soldate Hom kruisig, dan praat Hy.  Maar Hy vloek nie soos sommige miskien verwag het nie.  Nee, Hy bid.  En Hy bid nie vir Homself vir verligting van pyn nie.  Hy bid vir hulle wat Hom kruisig en veral vir die Joodse owerstes wat die oorsaak is dat die pyn Hom aangedoen word.

In hierdie gebed sien ons die ondeurgrondelike liefde van Christus vir sondaars.  Daarom openbaar Hy Hom hier as die vervuller van die wet van God in die volste sin van die woord.

God se wet eis tog dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, en dit het ook vir die lydende Jesus gegeld.  En op hierdie moment was sy moordenaars sy naaste.  En daarom het Christus ook, ondanks die leed wat hulle Hom aandoen, sy geweldige naasteliefde teenoor hulle geopenbaar deur vir hulle te bid.

  • Dit is die triomfantelike vervulling van die deur God geëiste liefde
    tot die naaste dat Christus  vir sy moordenaars gebid het.

Sal ons dit ooit kan verstaan?  Ons wat dit gewoonlik nie eers kan verdra om die minste te wees of onreg te ly nie, wat staan nog om op so ’n wrede wyse mishandel te word – kan ons dit verstaan?

En tog, as ons ware navolgers van Christus is, moet hierdie liefde tot die naaste of ten minste iets daarvan ook by ons gevind word soos dit by Stefanus gevind is toe hy vir die wat hom gestenig het, gebid het: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie” (Hand. 7:60).

Daarom moet ons hierdie besinning oor die eerste kruiswoord ook nie hier laat bly nie.  Maar as u tuis neerkniel om te bid, dink dan ook aan die mense met wie u oorhoops lê, die mense wat u beledig en benadeel het.  Bid vir hulle dat God hulle tot inkeer moet bring, aan hulle rein harte moet gee en ook die sondes wat hulle teenoor u begaan het, moet vergewe.  Dan sal u iets van die beeld van Christus vertoon soos dit in hierdie eerste kruiswoord tot openbaring kom.

Om hierdie gebed van Christus in sy eerste kruiswoord reg te kan verstaan, moet ons weet vir wie Jesus hier bid.  Uit die Skrif is dit duidelik dat Hy hier besonderlik bid vir die Jode wat Hom beskuldig het en vir die Romeine wat hom veroordeel en die vonnis voltrek het.

As ons dit besef, kom daar noodwendig verskeie vrae by ons op: Beteken dit dat Jesus hier vir die vyandige wêreld bid, terwyl Hy tog in sy hoëpriesterlike gebed gesê het: “Ek bid nie vir die wêreld nie”?  (Joh. 17:9). Ons weet tog dat Christus net vir sy vriende gesterf het, en smeek Hy hier tog om vergewing vir sy vyande.  Vra Hy nie die onmoontlike van die Vader nie?

Ons kry ’n antwoord op al hierdie vrae as ons die woord vergewe in hierdie kruiswoord reg verstaan.

Die woord vergewe beteken hier nie, soos op so baie ander plekke in die Bybel, dat God die sonde van die Jode en die Romeine moet kwytskeld en hulle dit nie moet toereken nie, maar dit beteken dat God die oordeel en die vonnis wat hierdie mense verdien, voorlopig nie aan hulle moet voltrek nie.  Hy vra dus vir uitstel van die voltrekking van die vonnis oor hierdie mense.  Christus bid dus dat sy Vader sy toorn oor hierdie moordenaars tydelik moet inhou en dit nie nou oor hulle moet laat losbars nie, sodat hulle nog ’n laaste geleentheid kan kry om hulle te bekeer.

Hierdie gebed om uitstel van God se straf was absoluut noodsaaklik.  Trouens, wat gebeur hier op Golgota?  Hier vind die grootste gruwel plaas wat nog ooit op hierdie sondige aarde plaasgevind het, want hier word die heilige Seun van God deur sondige mense aan die kruis gespyker.  Hier slaan die wêreld sy vuil sondaarshande aan die Geliefde van die Vader.

En nou dat Christus so verskriklik ly, nou moet die oordeel van God oor hierdie boosdoeners kom.  Die Vader moet nou vir sy geliefde Seun opkom teen al die onreg en smart wat Hom aangedoen word.  Want as God die manne wat sy dienskneg, Elia, oneerbiedig behandel het met vuur uit die hemel laat verteer het; en as God die seuntjies wat met Elisa, sy ander dienskneg, gespot het, deur bere laat verskeur het, hoeveel te meer moet ’n mens te wagte wees dat sy oordeel sou kom oor die mense wat hulle vergryp aan sy eniggebore Seun?  En as Jesus dan ook, al was dit maar net met een woord, die hulp van die Vader ingeroep het, sou sy Vader vir Hom opgekom het en al die aanwesige pynigers van sy Seun verdelg het en Hom bevry het. Maar … dan was Christus se verlossingsarbeid ook tot niet.  Dan sou Hy ons nie kon verlos van ons sondes nie.

Daarom bid Jesus.  Hy bid – menslik gesproke – om God te verhinder om nou in al sy toorn die oordeel oor hierdie sondaars te voltrek.  Hy vra uitstel vir God se regverdige straf.

Maar terwyl Hy God om vergifnis smeek vir sy moordenaars en uitstel vra vir hulle regverdige straf, vra Hy eintlik dat die volle troon van God op Hom moet neerkom.  Hy bid dus eintlik: Vader, vergeef hulle, spaar hulle sodat u toorn in al sy felheid op My kan neerkom.  Hy vra opskorting en uitstel van God se straf oor hulle sodat die volheid van God se straf op Hom kan neerkom.  So isoleer Hy Homself onder die straf van God: terwyl Hy in die grootste liefde sy moordenaars onder die oordele van God wegtrek, skuif Hy Homself in hulle plek onder God se oordele in.

Die vraag is nou: Waarom vra Jesus vir uitstel van God se straf oor hierdie mense?

Jesus self antwoord die vraag as Hy sê dat hulle nie weet wat hulle doen nie. Hulle besef nie wat die volle implikasie van hulle dade is nie.

Miskien sal ons geneig wees om te vra: Maar het hulle werklik nie geweet wat hulle doen nie?  Die profete het tog van Hom getuig.  Johannes die Doper het Hom aangewys as die Lam van God.  Christus self het deur sy prediking en wonders getoon dat Hy die Seun van God is.  Hoe kon hulle nog nie geweet het dat hulle hulle vergryp aan die Seun van God nie?

Tog sê juis hierdie gebed van Christus in sy eerste kruiswoord aan ons dat hulle nie werklik besef het wat hulle doen nie.  Hulle het gedink dat hulle aan God ’n guns bewys deur Jesus te kruisig, soos Paulus ook later gedink het toe hy die gemeente van Christus vervolg het.

            Daarom vra Christus vir uitstel van God se straf oor hulle.

Maar dan moet ons goed onthou dat Christus hier om uitstel van God se straf vra en nie om afstel nie.  En die uitstel beteken dat Christus aan hulle die geleentheid bied om ’n regsgrond, ’n rede te vind op grond waarvan God hulle in genade sal aansien en hulle sal vryspreek.  As ’n regsgrond gevind word, is hulle vry.  Maar as dit nie gevind word nie, kom die regverdige oordeel van God oor hulle.

En nou het Jesus geweet dat daar weldra so ’n regsgrond gevind sal word in die versoening van sondes wat Hy toe juis besig was om te bewerk.  Dat hulle vergewing van sondes deur die geloof in Jesus Christus, die Gekruisigde, kon vind, dit het hierdie beskuldigers en moordenaars van Hom ten tye van sy kruisiging nog nie besef nie.  Maar na sy opstanding uit die dood en die uitstorting van die Heilige Gees sal dit deur die prediking van die apostels aan hulle bekendgemaak word sodat hulle bevry sal word van die strenge oordeel van God as hulle glo in Christus as Verlosser.  As hulle dan daartoe kom om in Hom te glo, dan het hulle ’n regsgrond gevind op grond waarvan God hulle sal vryspreek van hulle regverdige straf.  Maar as hulle selfs dan, nadat Christus op die wyse aan hulle verkondig is, nie in Hom en die verlossing deur Hom wil glo nie, sal daar geen moontlikheid van vryspraak vir hulle wees nie.  Dan sal die oordeel van God waarvoor Christus nou uitstel vra, in al sy felheid oor hulle kom.

Verstaan u nou wat die betekenis van Christus se gebed in hierdie eerste kruiswoord is?  Hy vra uitstel van God se oordeel sodat aan hulle die geleentheid gebied kan word om later, veral na Pinkster, onder die prediking van die apostels tot bekering te kom.   As hulle dan ook nie tot bekering kom nie, kan God se oordeel oor hulle maar voltrek word.

Nou weet ons dat baie van die Jode wat skuldig was aan die kruisiging van Christus, later werklik tot bekering gekom het.  Op Pinksterdag alleen het 3000 mense tot bekering gekom en die getal het gou aangegroei na 5000.  As die oordeel van God direk ten tye van die kruisiging voltrek is, sou hierdie mense nie tot bekering gekom niet nie.  Maar hulle het die geleentheid waarvoor Christus in sy eerste kruiswoord gevra het, aangegryp en is gered.

Maar die grootste deel van die Jode het selfs van hierdie geleentheid nie gebruikgemaak en hulle bekeer nie.  Daarom is die oordeel van God oor hulle in die jaar 70 n.C. voltrek toe Jerusalem en die Joodse land op gruwelike wyse deur die Romeine verwoes is.  Toe was die groot hope opgestapelde lyke ’n aangrypende getuienis dat God nie met Hom laat spot nie.  So gaan dit met almal wat die geleentheid wat God hulle bied om tot bekering te kom, nie benut nie.

Hierdie gebed van Christus in sy eerste kruiswoord is ook vir ons wat vandag nog lewe van groot betekenis. Trouens, die feit dat die eindoordeel van God nog nie aangebreek het nie, is in werklikheid nog die vrug van hierdie gebed van Christus.  Die finale oordeel word vandag nog uitgestel om aan mense die geleentheid te gee om tot bekering te kom en in Christus se verlossingsarbeid ’n regsgrond te vind op grond waarvan hulle deur God van die ewige straf vrygespreek sal word.  Daarom het die apostel Petrus ook van die wederkoms van Christus gesê dat God dit in sy lankmoedigheid uitstel omdat Hy “nie wil hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).

Christus sê self ook in Matteus 24 dat eers as sy evangelie oor die hele wêreld verkondig is en almal die geleentheid gekry het om in Hom, Christus, voor God vryspraak van sonde te vind – eers dan sal die einde kom, want dan sal van niemand meer gesê kan word dat hy nie geweet het wat hy doen nie.  Wie Christus dan nog teen hulle beterwete verwerp, gaan willens en wetens die ewige oordeel van God tegemoet.

En nou moet ons goed begryp dat ons nog lewe in die tyd van genade, in die tyd waarin die oordeel uitgestel word sodat ons die geleentheid kan hê om ons van harte te bekeer.  Verder moet ons onthou dat elke keer as ons ons Bybel gelees het en elke keer nadat ons in die kerk was, daar des te minder van ons gesê sal kan word dat ons nie geweet het wat ons doen nie.  Ons weet dit goed.  En as ons nogtans in hierdie uitsteltyd, in hierdie genadetyd ons nie bekeer nie, gaan ons met oop oë die oordeel van God tegemoet.

Dit geld van ons individueel, maar dit geld ook van ons as volk.  As ons volk Christus ken, van Hom kan lees en kan hoor, en Hom tog verwerp, staar ons ’n gewisse ondergang in die gesig.

Christus het in sy eerste kruiswoord gepleit vir uitstel van God se oordeel om genadetyd en bekeringstyd aan ons te bied.  Maar as ons van daardie tyd nie gebruik wil maak en ons bekeer nie, sal die uitstel opgehef word en kom God se oordeel gewis.

Ons moet steeds in gedagte hou dat elke dag wat die son oor ons opgaan aan ons verkondig: God luister nog na Christus se gebed om uitstel van die oordeel – ook vir my, want ek lewe nog.  Maar eenmaal word die gebed van Christus vir my stil: die dag wanneer ek tot sterwe kom.  Dan is my genadetyd verby.

En die dag kan wees vandag of môre of aanstaande week – niemand weet nie, net God alleen. Daarom sê hierdie gebed van Christus aan ons: Nou leef ons nog in die tyd van die uitstel van die oordeel.  Gebruik dit reg.  Bekeer jou.  Dien die Here.  Weldra is die tyd miskien verby en … wat sal ons dan by God vind – vryspraak of veroordeling?

Hierdie magtige liefdesgebed in die eerste kruiswoord van Christus roep ons almal dus met dwingende erns toe: Vandag is nog die tyd van God se genade oor jou .  Vandag is nog uitstel tyd vir jou.  En daarom: Vandag as jy die stem van die Here hoor, verhard jou hart nie maar bekeer jou.

This entry was posted in Kerk.