DIE SESDE KRUISWOORD

“DIT IS VOLBRING!”

Lees: Johannes 19:17-30

Teks: Joh. 19:30a: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Sing: Ps. 146:1, 5; Sb. 6:4-7 (T5-1); Sb. 8:1, 2 (T5-3)

 

“Dit is volbring!” – so ’n kort uitroep met so ’n magtige inhoud.

Hierdie sesde kruiswoord van Christus wat in ons Bybel met drie woorde weergegee word, was in die mond van Christus net één woord.  Maar die inhoud van hierdie een woord is so geweldig groot dat daar geen menslike brein is wat ooit die volle omvang en betekenis daarvan kan omvat of deurgrond nie.  In hierdie een woord kom al die lyne van die Skrif saam.  Hierdie een-woord-uitroep van Christus met die betekenis wat daaraan verbonde is, vorm die fondament van die verlossing van die kinders van God; dit is die grondslag vir die finale triomf oor Satan; dit is die teken dat die eer van God wat deur die sonde geskend is, weer volmaak herstel sal word; dit is die versekering vir die kind van God dat sy sonde vergewe is en dat hy nou met vrede in die gemoed kan rus in die voltooide werk van Christus.

Hoe dit met hierdie sesde kruiswoord gesteld is, kan ons met die woorde van Job verduidelik.

As Job die groot dade van God in die natuur sien, hoe Hy magtige wolkgevaartes tot stand bring, hoë golwe in die see opjaag, weerligte laat neerknetter op die aarde, dag en nag so reël dat hulle in vaste orde mekaar opvolg, dan sê Job: Al hierdie dinge is nog maar net ’n fluisterstem van God wat ons hoor.  En dan stel hy die vraag: “Wie kan dan die donder van sy magtige dade verstaan?” (Job 26).

So groot as wat die verskil is tussen ’n fluisterstem en ’n donderslag, so groot is die verskil tussen wat ons sien en verstaan van God se dade én alles wat God in werklikheid doen – dinge waarvan ons sondaarmense hier op aarde nooit ’n idee of begrip kan kry nie.

So is dit eintlik ook met hierdie sesde kruiswoord van Christus.  So groot as wat die verskil tussen ’n fluisterstem en ’n donderdslag is, so groot  is die verskil tussen dit wat ons van hierdie sesde kruiswoord kan verstaan en wat die werklike inhoud en betekenis daarvan is.  En al wat ons in die verklaring van hierdie een woord uit die mond van ons Heiland moet doen, is om dit wat ons van hierdie fluisterstem kan opvang en verstaan, so helder en duidelik as moontlik te laat weerklink en weer te gee.  En dan doen ons dit met die hoop en verwagting dat God ons eenmaal in die ewigheid iets meer sal laat hoor van die donder van die magtige dade van ons Here Jesus Christus wat in hierdie kruiswoord vertolk word.

Hierdie kruiswoord: “Dit is volbring!”, het skynbaar geen adres nie.  Dit is nogal opvallend, want daarin verskil dit van al die ander kruiswoorde.  Almal het ’n duidelike adres en is gerig tot ’n bepaalde persoon of persone.  So is die eerste kruiswoord gerig tot sy Vader, die tweede tot die misdadiger aan die kruis, die derde tot sy moeder en Johannes, die vierde tot God, die vyfde tot die soldate en die sewende weer tot sy Vader.  Net by die sesde kruiswoord is daar nie ’n direkte en duidelike aanduiding tot wie Hy Hom rig nie.

Maar juis hierin word iets van die geweldige inhoud van hierdie kruiswoord geopenbaar, want dit het skynbaar geen adres nie omdat dit alles en almal: die drie-enige God, die ganse skepping die ganse heelal met alles wat daarop of daarin is tot adres het.  Hierdie woord het ’n groot betekenis vir Jesus self, maar Hy rig dit verder tot sy Vader en die Heilige Gees, tot sy kinders, tot die duiwel en al sy trawante, tot die wêreld, tot die sondaar – ja, tot alles en almal!

In alle ore moet dit weerklink: “Dit is volbring!”

En watter effek moes hierdie een-woord-uitroep aan die adres van alles en almal nie gehad het nie!  Dit het die duiwel laat sidder en beef, dit het die engele laat juig en die kinders van God laat jubel en dank.  Weldra sou dit ook die voorhangsel van die tempel in twee laat skeur, die aarde laat bewe en dooies uit die grafte laat opstaan.

Maar as Christus sê: “Dit is volbring!” wat is dit nou wat volbring is?

Is dit miskien sy middelaarswerk?  Nee, dit kan nie wees nie, want tot sy middelaarswerk hoort ook die oorwinning oor die dood, en dit het ten tye van die uitspreek van hierdie sesde kruiswoord nog nie plaasgevind nie.  Is dit miskien sy vernedering?  Nee, want sy dood en die ingaan in die graf was vir Hom nog ’n verdere vernedering.

Wat volbring is, is sy lyde: daardie verskriklike lyde na liggaam en na gees toe Hy die toorn van God oor die sonde van die ganse mensdom gedra het – dít is volbring.  Hierdie lyde wat beteken het dat Hy in sy liefde vir ons die smarte van die hel in Godverlatenheid moes verduur om ons daarvan te verlos – dít is volbring.

Ons kan dit ook verduidelik met woorde uit die boek Openbaring.  Daar word die hel die tweede dood genoem, en die dood soos dit hier op aarde aan ons bekend is, ons kan sê die liggaamlike dood, kan dan die eerste dood genoem word (Op. 20:6, 14, ; 21:8).  En nou kan ons sê: Hy het die tweede dood, die smarte van die hel, wat die regverdige straf op die sonde is, deurworstel en oorwin.  Van dáárdie deel van sy middelaarswerk het Hy in sy sesde kruiswoord uitgeroep: “Dit is volbring!”

Dat hierdie lyde vir Hom iets verskrikliks moes gewees het, blyk daaruit dat die angs daarvoor Hom reeds bloed laat sweet het in Getsemane.  Daarom het hy ook gesmeek: “Vader, as dit moontlik is, laat hierdie drinkbeker by my verbygaan”.  Maar dan betoon Hy Hom direk daarna weer as die gewillige Kneg van die Here as Hy sê: “Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied.”

Maar in hierdie sesde kruiswoord kondig Hy nou aan dat hierdie beker nie by Hom verbygegaan het nie; Hy het dit gedrink en tot die bodem toe geledig.  Hierdie allerswaarste deel van sy lyde waarteen Hy ook die meeste opgesien het – dit het Hy deurly en deurworstel.  Hy was van God verlaat en het tog die geloof behou.

Daarom hoor ons in hierdie sesde kruiswoord  ’n triomfkreet – wat in die monde van sy kinders ’n verlossingskreet geword het.

Omdat hierdie woorde: “Dit is volbring!” daarvan getuig dat Hy die swaarste deel van sy lyde tot ons verlossing reeds deurgegaan het, lê hierin die versekering opgesluit dat Hy sy hele middelaarswerk ook heeltemal sal voltooi.  Omdat Hy die tweede dood, die smarte van die hel, oorwin het, weet Hy ook met sekerheid dat Hy die eerste dood, die liggaamlike en aardse dood, ook sal oorwin.  Hy was van God verlaat maar Hy het nou weer tot die gemeenskap met God teruggekeer.  Daarom is Hy daarvan seker dat Hy nooit weer deur God verlaat sal word nie.

Christus sou nooit so juigend en met soveel sekerheid kon getuig van dit wat Hy volbring het, as Hy nie daarvan seker was dat Hy die verlossing van sondaars nog verder sou voltooi nie.

Christus juig nooit te vroeg nie; Hy doen dit ook nie hier nie. Maar nou nadat Hy die swaarste deel van sy lyde deurgegaan het, nou juig Hy tog omdat Hy met sekerheid weet dat Hy op die derde dag sál opstaan uit die dood en die verlossing van die wêreld, waarvoor Hy Homself gegee het, sal voltooi.

Maar met die uitroep: “Dit is volbring!”, gryp Christus nie net vooruit na sy opstanding uit die dood nie, maar ook na sy wederkoms wanneer sy verlossingwerk in al sy fasette voltooi sal wees en sy duurgekoopte bruid saam met Hom sal aansit aan die bruilofsmaal van die Lam.

Omdat Christus die tweede dood reeds oorwin het, het Hy die fondamente onder die hele bouwerk van Satan uitgeruk.  En nou mag die mure van sy gebou ten tye van die uitspreek van hierdie woord nog staan, dit staan reeds wankelend, en straks, op Paasmôre, val ‘n groot deel daarvan plat, en met die wederkoms van Christus sal die hele bouwerk van Satan inmekaar stort en ‘n groot puinhoop word.  En oor die Babilon van Satan en die Antichris sal dan alleen maar die klaagstem gehoor word: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik!  Die groot stad, Babilon, die sterk stad!  In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!” (Op. 18:10).

Maar hierdie verwoesting van Babilon is reeds gewaarborg in die sesde kruiswoord van Christus: “Dit is volbring!”

Om nou nog meer van die fluisterstem van die sesde kruiswoord te verstaan, moet ons dit ook beskou in die lig van die Skrif as geheel en die wêreldgeskiedenis as geheel.

Hierdie woord kom, al is dit nie na die letter nie dan tog na die betekenis, eintlik drie maal in die Skrif voor, of ons kan ook sê: drie maal in die wêreldgeskiedenis.

Die eerste keer vind ons dit aan die einde van God se skeppingswerk waarvan ons in Genesis 2 lees: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.”  Toe het God van sy skeppingswerk gesê: Dit is volbring.

Die tweede keer vind ons dit teen die einde van die verlossingswerk van God deur Christus as Hy aan die kruis sê: “Dit is volbring!”

Die derde keer vind ons dit aan die einde van die heiligende werk van God deur sy Woord en Gees, wat ook die einde van die wêreldgeskiedenis beteken.  Ons lees daarvan in Openbaring 16: “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom wat sê: Dit is verby!”  (Op. 16:17).  En verder: “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut… En Hy het vir my gesê: Dit is verby!” (Op. 21:6).

Deur hierdie drie inhoudelik ooreenstemmende uitsprake word die wêreldgeskiedenis in drie dele verdeel.  Die eerste staan aan die einde van wat ons kan noem, die tydperk van God die Vader en ons skepping.  Die tweede aan die einde van die typerk van God die Seun en ons verlossing; die derde aan die einde van die tydperk van God die Heilige Gees en ons heiligmaking.  Maar dan moet ons in gedagte hou dat die werk van die drie Persone nooit van mekaar geskei mag word nie.

God het sy heerlike skeppingswerk voltooi.  Hy het dit volbring.  En Hy was – as ‘n mens so menslik van God mag spreek – tevrede daarmee want ons lees aan die einde van Genesis 1: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het en – dit was baie goed.”

Toe het die sonde gekom en hierdie mooi skepping van God kom ruïneer.  Maar direk daarna het God die verlossing van sonde aangekondig.  En as Christus die sesde kruiswoord uitroep, kondig Hy aan dat sy verlossingswerk tot ’n einde gekom het.  Met die kruiswoord hoor ons Hom dus eintlik uitroep: Toe sien God alles wat Hy gedoen het en – dit was baie goed.

Maar die verlossing wat Christus vir ons verwerf het, moes tot ons eiendom gemaak word.  En dit is veral die werk van God die Heilige Gees.  En as daar in die boek Openbaring aangekondig word: “Dit is verby!”, beteken dit dat ook hierdie werk tot ‘n einde gekom het.  Dan het die tyd gekom van die volmaakte “herskepping”: ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar God alles sal wees en in almal.

So sien ons dat die twee punte: die aan die begin en die aan die einde van die wêreld­geskiedenis, saamgebind word deur hierdie kruiswoord van Christus: “Dit is volbring!”  Maar so gesien, kondig hierdie kruiswoord van Christus ook aan dat wat God eenmaal begin het, Hy ook sal voltooi en voleindig.  Hy laat nie vaar die werke van sy hande nie!  (Ps. 138:8).  As sy skepping deur die sonde geskend word, kondig Hy die herskepping aan en voltooi dit ook.

Werklik hierdie sesde kruiswoord is geweldig ryk aan inhoud en betekenis – al kan ons net ‘n fluisterstem daarvan opvang en begryp.

In hierdie triomfwoord van ons Heiland aan die kruis hoor ons sy oneindige liefde vir ons arme sondaars.  Ons hoor daarin die versekering dat ons skuld versoen is, ons ongeregtigheid weggeneem is en dat die ewige lewe vir ons verwerf is.

Nou kan elke gelowige jubelend sê: Ek weet dat ter wille van die voltooide werk van Christus niks my meer van God se liefde kan skei nie – ook nie die boosheid van my eie hart nie.  Christus het uitgeroep: “Dit is volbring!” – ook vir my.

En as dit dan gebeur dat ons in sonde val en daaroor voor God berou het, moet ons nie daaraan twyfel of ons ook dan nog deel het aan die verlossing deur Christus nie, want ons moet onthou dat hierdie sesde kruiswoord ook aan ons verkondig dat wat God eenmaal begin het, Hy sekerlik sal voleindig – ook in my versondigde lewe.

Daarom kan ons uitsien na die dag wanneer ons hierdie sesde kruiswoord van Christus nie net ten dele nie maar werklik ten volle sal verstaan, as ons nie net ‘n fluisterstem daaruit opvang nie maar die donder van die magtige daad van Christus waarheen dit verwys.  Dan sal ons ons Here Jesus Christus ewig loof en prys vir dit wat Hy vir ons volbring het.

This entry was posted in Kerk.