DIE SEWENDE KRUISWOORD

VAN KINDERGEBED TOT OORWINNINGSKREET

Lukas 23:46:   “Vader in u hande gee ek my gees oor!”

Kort nadat Christus van die kruis op Golgota af uitgeroep het “Dit is volbring!” praat Hy weer – die sewende en laaste maal.

Die evangeliste lê nadruk daarop dat Christus se laaste kruiswoord ’n besonder harde uitroep was.  Ook hierdie keer moes almal duidelik hoor wat hy sê.  Die omstanders wat gehoor het hoe Hy in benoudheid uitgeroep het dat Hy van God verlate was, moet nou verneem dat Hy weer die heerlike nabyheid van sy Vader geniet.  Waar Hy ‘n rukkie tevore net “My God…” kon sê, kan Hy nou weer “Vader” sê.

Nadat Hy die swaarste deel van die versoeningswerk volbring het, het die gevoel van vaderlike guns en toegeneëntheid teruggekeer.  Daarom kan Hy nou hard uitroep: “Vader in u hande gee Ek my gees oor!”

Hierdie uitroep van Christus toon duidelik aan dat Hy nie op passiewe wyse gesterf het uit kragteloosheid nie, maar dat sy sterwe in die volle sin van die woord ‘n aktiewe daad van Homself was.  Die dood het nie die laaste asem uit Hom uitgepers nie, maar Hy het dit uit eie wil self uitgeblaas.  Of om dit anders te stel: Hy is nie passief die dood ingeruk nie, maar het as ‘n kragtige held die vesting van die dood ingestap om die dood in sy eie woning te oorweldig.

Hierin sien ons die bevestiging van Christus se eie woorde toe Hy in die gelykenis van die goeie herder gesê het: “Niemand neem my lewe van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af.  Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem” (Joh. 10:18).

Omdat Jesus gedoen het wat Hy tot op daardie stadium moes doen, mag Hy sy gees nou in die hande van sy Vader toevertrou.

Om egter die volle betekenis van hierdie uitspraak van Christus te verstaan, moet ons daarop let dat Hy hier woorde uit die Ou Testament en wel uit Psalm 31 gebruik.  Net soos Hy met die uitroep: “My God, my God waarom het U My verlaat?” woorde uit die Ou Testament, naamlik van Psalm 22 gebruik het, gebruik Hy hier ook ’n sinsnede uit die Ou Testement, maar hierdie keer Psalm 31:6.  En om nou die betekenis van die sewende kruiswoord goed te kan verstaan, is dit nodig om aan die gelykluidende woorde uit Psalm 31 aandag te gee.

Dawid het hierdie lied geskryf toe hy in groot nood verkeer het.  Sy vyande is op sy spoor; hulle soek sy lewe; hulle maak die lewe vir hom benoud en bitter.  En tot wie anders kan hy dan sy toevlug neem as net tot die Here?

Dit doen hy dan ook.

Daarom sê hy in volle geloofsvertroue aan die Here: “In u hand gee ek my gees oor”.  Daarmee bedoel Dawid dat hy sy lewe, wat hy van God ontvang het, nou ook, terwyl hy omring is deur talle gevare, in die hande van die Here toevertrou en weet dat die Here dit ook sal bewaar en beskerm.  God sal hom beskerm teen die dood.  God sal hom red uit die strikke wat die vyand vir hom span.

Hierdie woorde van Dawid : “In u hand gee ek my gees oor”  het vir die Joodse volk in later jare egter ‘n heel besondere betekenis verkry.  Dit is naamlik deur die Rabbyne voorgeskryf as ‘n kort aandgebed vir die Jode en veral vir die kinders.

Dit is so ‘n eenvoudige gebed en klein kindertjies kan dit so maklik leer.  Waarskynlik het Maria self hierdie gebed aan haar eersgebore Seun geleer toe Hy kon praat.  En hoe uitnemend pas dit nie as aandgebed nie!  Want as ons gaan slaap, is dit tog asof ons gees losraak van die liggaam.  Die gelowige Jood en veral die kindertjies het, as hulle gaan slaap, nadat hulle dagtaak volbring was, hulle gees, hulle lewe toevertrou in die hand van God en geweet dat Hy hulle te midde van al die gevare van die donker nag sal beskerm en die volgende môre weer sal laat wakker word.

In dié lig moet ons Christus se laaste kruiswoord sien.

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat Christus gesterf het met ‘n kindergebed op sy lippe nie! – ’n gebed wat Hy seker baiekeer gebid het voordat Hy gaan slaap het en nou ook bid voor Hy ontslaap.

Hierdie betekenis wat die woorde uit Psalm 31 vir Dawid en vir die Jode in die later jare gehad het, help ons nou ook om Christus se laaste kruiswoord in die regte perspektief te sien.

Toe Christus dit uitgespreek het, was sy werk in ‘n sekere sin ook volbring.  Kort tevore het Hy immers uitgeroep: “Dit is volbring!”  Sy versoeningswerk is afgehandel vir sover dit op daardie stadium moontlik was.  Sy “dagtaak” – so kan ons byna sê – is afgehandel.  Hy het nou by die ”aand” van sy lewe gekom en Hy gaan die “nag” binne met die gebed: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor?

Maar as Dawid, toe hy dié gebed gebid het, omring was deur allerlei gevare en deur vyande, dan is dit veel meer met hierdie “groot Seun” van Dawid die geval.  En dan weet ons dat sy vyande nie maar net die Jode en die Romeine is deur wie se toedoen Hy gekruisig is nie, maar dat dit die Satan self is wat Hom hier aanval.  Dit kan ons in die beskrywing van Lukas wel nie duidelik sien nie, maar as ons dit wat hier gebeur, bekyk in die lig van Openbaring 12, sien ons dit baie duidelik.

Ons lees daar immers van die groot draak, naamlik Satan, wat voor die vrou gestaan het wat op die punt was om ’n kind in die wêreld te bring sodat hy die kind kon verslind sodra hy gebore is.  En nou lees ons van die kind wat gebore is hierdie woorde: “En haar kind is weggeruk na God en sy troon”.  Hierdie woorde sien nie net op die hemelvaart van Christus nie, maar ook daarop dat God die gees van Christus, wat Hy nou by sy dood in die hande van sy Vader toevertrou, wegruk voor die groot, vuurrooi draak wat dit wil gryp.

Te midde van hierdie bedreigde situasie gee Christus in volle geloofsvertroue sy gees in die hande van sy Vader teen wie Satan totaal magteloos is.  Bowendien weet Christus dat sy Vader, in wie se hande Hy sy gees oorgee, dit na drie dae aan Hom sal teruggee en dat Hy dan sal opstaan uit die dood.

Nou is dit ook vir ons duidelik dat Christus ’n baie dieper betekenis gegee het aan Dawid se woorde wat Hy uit Psalm 31 oorgeneem het.  Dawid en die Jode na hom het, toe hulle gebid het: “In u hande gee ek my gees oor”, dit gesê met die oog op tydelike gevare.  In geloofsvertroue was hulle dan seker dat God, in wie se hande hulle hulle gees toevertrou het, hulle sal beskerm en red van die dood en môre weer sal laat wakker word en opstaan.  Maar as Christus hierdie woorde gebruik, gee Hy daaraan ’n dieper betekenis, want dan gee hy daarmee te kenne dat God ook in die dood sy gees veilig sal bewaar en dit weer aan Hom sal teruggee sodat Hy sal opstaan uit die dood.

So kondig Christus met sy laaste kruiswoord reeds sy oorwinning oor die dood aan.  Hy verkondig daarmee dat Hy gewis en seker sal opstaan uit die dood.

Maar in die mond van Christus aan die kruis kry hierdie woorde uit Psalm 31 nog ’n omvattender betekenis.

Christus het gekom om ons te verlos deur Satan, sonde, dood en hel te oorwin.  En in die evangelie lees ons nou hoe Christus se lyde al hoe smartliker word totdat dit die diepste dieptepunt bereik as Hy deur God verlaat word.  Toe het die hel, wat in die boek Openbaring die tweede dood genoem  word, met al sy smarte, kwellings en pynigings op Christus toegesak om Hom te oormeester.

Maar dit kon nie.  Christus het die hel, die tweede dood, oorwin, en die uitroep: “Dit is volbring”! bevestig dit ook.  Dit was die smartlikste deel van Christus se lyde.  Maar nou is dit verby.

Daarmee is egter nie alles afgehandel nie.  Nou moet die eerste dood, die dood soos ons dit hier op aarde ken, nog oorwin word.  En dit is wat Christus nou ook wil en gaan doen as Hy sê : “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!”

Met hierdie sewende kruiswoord sê die Here Jesus eintlik: Vader, U het My die taak opgelê om die eerste en die tweede dood te oorwin.  Die tweede dood, die hel, het Ek klaar oowin.  Dit is volbring.  Nou gaan Ek om ook die eerste dood te oorwin.  Neem dan nou my gees, my Vader, sodat Ek die eerste dood kan ingaan, en ek weet dat U my gees na drie dae aan My sal teruggee.  Dan sal Ek opstaan uit die dood en dan sal ook die eerste dood ten volle oorwin wees.

Met sy laaste kruiswoord kondig Christus dus ook sy verdere werksprogram aan: Hy sê wat Hy nou wil en gaan doen.  En ook hieruit kan ons sien dat Jesus se sterwe nie iets is wat Hy passief ondergaan het nie, maar dat dit ’n daad, ’n doelgerigte daad van Homself was.

So sien ons hier dat Christus die pad tot ons verlossing enduit wil loop.  Al het Hy reeds so swaar gely, hou Hy nie op nie.  Hy sê nie dit is genoeg nie.  Nee, Hy wil volkome versoening en verlossing bewerk.  Die sewende kruiswoord is nog ’n openbaring van sy grenslose liefde vir ons.  In die lig van hierdie uiteensetting kry die sewende kruiswoord vir ons van Christus vir ons ’n ryk en heerlike betekenis.  Ter wille van sy soenverdienste kan ons Christus hierdie woorde nou nasê, nie maar net in die betekenis wat dit vir Dawid en die Jode met die oog op tydelike gevare gehad het nie, maar ook in die betekenis van beskerming teen die mag van die dood en die smarte van die hel.

Elke gelowige kan nou ook om Christus ontwil met vrymoedigheid by sy of haar sterfbed sê: “Vader in u hande gee ek my gees oor.”  Christus het immers die dood om ons ontwil vrywillig ingegaan; op die derde dag het Hy sy gees van God terugontvang en die eersteling geword van die wat opgestaan het uit die dood.  Daarom mag ons nou ook, as ons die dood ingaan, ons gees of siel aan God toevertrou en weet dat Hy dit om Christus ontwil veilig sal bewaar tot op die dag van die opstanding wanneer liggaam en siel weer verenig sal word.

Christus het gesê: “Moenie bang wees vir die wat dié wat die liggaam doodmaak maar die siel nie kan doodmaak nie.  Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matt. 10:28).  Maar hoe wonderlik is dit dan om te weet dat die Een wat dit kan doen juis die Een is wat my siel of gees veilig sal bewaar tot by die wederkoms van Christus.

Daarom moet die sewende kruiswoord van Christus ook ons aandgebed, ja, die gebed van ons hele lewe wees.  Ons moet ons gees, ons liggaam en ons hele lewe voortdurend, elke dag, in die hande van ons Vader oorgee en aan sy sorg toevertrou.  In sy hande is dit inderdaad veilig, want Christus sê van die wat aan Hom behoort, dat niemand hulle uit sy hand of uit sy Vader se hand sal ruk nie (Joh. 11:28, 29).  En Paulus sê dat ook die dood ons nie van God se liefde kan skei nie (Rom. 8:38, 39).

Wie in hierdie gesindheid die dood tegemoet gaan, is by die sterwe reeds seker van sy of haar opstanding uit die dood – om Christus ontwil, en kan ook sterf met die woorde; “Vader, in u hande gee ek my gees oor.”

P. J. DE BRUYN

 

This entry was posted in Kerk.