DIE TWEEDE KRUISWOORD

“MET MY IN DIE PARADYS”

Lukas 23:42 en 43: Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”  Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”.

Jesus Christus en sy kruis bring altyd skeiding in hierdie wêreld teweeg.  Hy verdeel die mensdom in twee groepe.  Dit het geskied die hele tyd van sy omwandeling hier op aarde tot aan die kruis.  Selfs aan die kruis skei Hy nog.  So gaan in vervulling wat Simeon reeds by sy geboorte gesê het, naamlik dat Hy bestem is tot ’n val en opstanding van baie in Israel.  Jesus self het ook gesê dat daar by sy wederkoms twee mense saam op ’n land of saam in die bed sal wees: die een sal aangeneem en die ander verlaat word (Vgl. Luk. 17:34-36).

Hierdie skeiding wat Christus in die wêreld bring, sien ons nou ook op Golgota.  Christus hang in die middel met aan die een kant ’n misdadiger wat gered word en aan die ander kant ’n misdadiger wat verlore gaan.

Van die een misdadiger lees ons dat hy, terwyl hy aan die kruis hang, met Christus gespot het en aan Hom gesê het: “As U die Christus is, verlos Uself en ons”.

Ons staan hier eintlik by ’n sterfbed.  Die man het so ’n groot misdaad begaan dat die swaarste vonnis, naamlik die kruisdood oor hom uitgespreek is.  Nou hang hy daar om te sterwe.  Onder hewige pyne wag hy sy dood af.

Maar wat doen hy in sy laaste lewensure?  Hy laster, hy spot met Christus wat die ware Lewe en Bron van alle lewe is.  Hy spot met die Lewensvors in die aangesig van die dood, in die aangesig van die hel.

Terwyl pyne van alle kante af deur sy liggaam skiet, spot hy.  Hy spot met God.

Dit moet ons hier leer en onthou: pyn en smart bring ’n mens nie altyd tot bekering nie; trouens, dit kan mense soms juis daartoe bring om die Naam van die Here te laster.  In Openbaring 16 lees ons ook dat God in die laaste dae swere en pyn oor die mense sal bring wat so verskriklik sal wees dat hulle hulle tonge van pyn sal kou.  En dan word van hierdie mense dit gesê: “En hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere en hulle nie bekeer van hulle werke nie”.

Hier sien ons wat gebeur met iemand wat in sonde lewe en hom nie bekeer nie: uiteindelik word hy so deur die sonde oormeester dat hy ook in sy sonde sterf.  Dit moet vir elke mens ’n ernstige waarskuwing wees om sy/haar bekering nie uit te stel tot die lewenseinde, met die gedage dat ek my in die aangesig van die dood sal bekeer nie, want dan kan dit met ’n mens miskien net so gaan soos met hierdie misdadiger.

Hy is so naby aan Christus en tog ook so oneindig ver van Hom verwyder.

Dit kan ook met ons gebeur.  Christus is immers naby ons deur sy Woord wat in ons huise is en in die kerk verkondig word; Hy is by ons deur ons medebroeders en –susters wat ons uit die Woord vermaan, vertroos en bemoedig; Hy is by ons deur sy Gees wat aan ons en in ons getuig.  Maar as ons nie daarop ag gee nie, kan ons lewenseinde dieselfde wees as die van hierdie misdadiger.

By die ander misdadiger wat saam met Christus gekruisig is, kry ons ’n totaal ander gesindheid.  Sy woord getuig van erkenning van sy sonde en die smeking om genade.

Toe die ander misdadiger met Christus gespot het, het hierdie een hom bestraf en aan hom gesê: “Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? – ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie”.

As ons lees wat Matteus in hierdie verband meedeel, lyk dit baie waarskynlik dat hierdie man aanvanklik ook met Christus gespot het.  Maar later het hy opgehou met spot – miskien nadat hy gehoor het hoe Christus in sy eerste kruiswoord gebid het juis vir hierdie mense wat Hom kruisig.  Daarna het hy die gespot van die Jode swygend aangehoor.   Hy het toe so skuldig gevoel oor sy eie lewe en optrede, ook nog daar aan die kruis, dat hy hom nie waardig gevoel het om die spottende Jode te bestraf of aan hulle iets te sê nie.  Maar nou dat sy mede-gekruisigde Christus bespot, nou het sake verander, want nou het hy sy gelyke teenoor hom.  Daarom sê hy eintlik aan hom: Jy, mede-gekruisigde, is daar dan geen vrees vir God in jou nie, terwyl God reeds begin het om jou te straf vir jou goddelose lewe?  Waarom voeg jy by al jou ongeregtighede nog dit by dat jy spot met hierdie Regverdige?  Hy het niks verkeerds gedoen nie, maar ons kry wat ons verdien het, ons is werklik skuldig.

Hierdie man bely sy skuld onomwonde.  Alles wat hy sê, getuig van ’n diep en opregte skuldbesef en daarom ook ’n besef van die regverdigheid van sy kruisvonnis.  Hy ken homself en hy weet dat hy net so skuldig is soos die ander misdadiger.  Dit is beslis regverdig dat albei van hulle nou aan die kruis hang.  Hulle straf is hulle verdiende loon omdat hulle nou maai wat hulle in hulle vrye lewe gesaai het.

Hoe ’n egte boetvaardigheid hoor ons nie her nie!  Onverbloemd bely hierdie misdadiger sy skuld.

Daarby het dit egter nie gebly nie.  Nadat hy sy eie skuld bely het, het hy die totale onskuld van Jesus verkondig, want hy sê: hierdie Man het niks verkeerds gedoen nie.  Terwyl die mense rondom die drie kruise Jesus geterg en gespot het, kom hierdie misdadiger openlik op vir die reg en onskuld van Jesus.

Maar erkenning en belydenis van sonde gaan altyd gepaard met ’n verlange na en ’n gebed om genade.  So was dit ook met hierdie gekruisigde misdadiger.  Daarom bid hy ook tot Christus: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom”.

Waarskynlik het die misdadiger met hierdie gebed van hom ongeveer dieselfde in gedagte gehad as wat Josef in gedagte gehad het toe hy die skinker van Farao versoek het om aan hom te dink as hy weer in sy eer herstel is.  Daarom vra hy dat Jesus op ’n soortgelyke wyse maar net aan hom moet dink en, al is dit ook ver in die toekoms, sy naam moet noem.

Hy pleit nie op grond van enige verdienste aan sy kant nie, want daar is nie so iets nie.  Die feit dat hy regverdiglik aan die kruis hang, toon dat sy hele lewe een groot misdaad was.  Daarom bid hy na sy skuldbelydenis dat die Here uit genade maar net aan hom moet dink.

Die geloof van hierdie misdadiger is werklik verbasend.  Die omstandigehde om te kom tot geloof in Christus was immers nooit ongunstiger as juis nou nie, want dit was, uit menslike oogpunt beskou, op daardie oomblik die tyd van die grootste swakheid van Jesus Christus.  Juis toe die kruis waaraan Jesus Christus gehand het die grootste struikelblok was vir die geloof in Hom as Redder en Verlosser van die mensheid, het die geloof van hierdie man hom verhef tot ’n hoogte waar dit alles twyfel ver benede gelaat het.

Uit hierdie gebeurtenis op Golgota moet ons leer dat as ons Christus werklik wil vind, ons soos hierdie berouvolle misdadiger moet word wat sy sonde bely en bid om genade.

Hier het ons in werklikheid te doen met die verlore seun wat met berou en smart in sy hart na die Vaderhuis terugkeer en dan ondervind dat hy nie verafsku of weggestoot word nie – altans nie deur die Hoof van die huis nie – maar met blydskap en dankbaarheid in die huis ingeneem word.

So moet ons ook al ons sondes en misdade waarmee ons God terg en Christus bespot voor ons Here en Heiland oopsprei en dan bid: Here, dink ook aan my in genade, want ek het niks waarop ek kan pleit nie.  Ek weet ek verdien ’n regverdige en daarom ’n ewige straf.  Maar, o Here, my Voorspraak en Advokaat, bid tog uit genade ook vir my soos U vir u moordenaars gebid het.  So moet ons tot God nader omdat ons weet dat Hy ’n gebroke en verslae hart nie sal verag nie.

Nadat hierdie berouvolle misdadiger gepraat het, ontvang hy die mooiste antwoord wat ’n mens in die omstandighede seker kan ontvang: “Voorwaar, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees

Uit hierdie woorde merk ons dat die Here Jesus nie net die man se gebed verhoor het presies soos hy tot Hom gebid het nie.  Nee, Hy het dit op ’n veel heerliker wyse verhoor.  Daarom bied Christus hom ook baie meer as waarvoor hy gevra het.  Die misdadiger bid om ’n druppel en dan word hy begenadig met strome van seën.

Dat Christus hom baie meer gebied het as waarvoor hy gevra het, sien ons veral in drie opsigte:

  1. Hy het gebid dat die Here net aan hom moet dink. Maar Christus antwoord hom dat Hy nie net aan hom sal dink nie maar dat Hy daadwerklik iets vir hom gaan doen: Hy sal hom, die gekruisigde misdadiger, saam met Hom na die ewige en salige paradys neem.  Boonop sê Christus dit nie net aan hom nie, maar Hy bevestig sy belofte eintlik met ’n eed: “Voorwaar, Ek sê vir jou…”.  en vir die woord voorwaar gebruik Christus hier dieselfde woord as vir amen, en dit beteken: dit sal waar en seker wees.

Christus sê dus eintlik aan die man: Jy vra dat Ek maar net aan jou moet dink.  Maar Ek bied jou baie meer, duisendmaal meer, want Ek sal gewis en seker toesien dat jy met My in die paradys sal wees.  En jy sal daar wees saam met my.  As daar in die paradys vir My plek is, dan ook vir jou.

  1. Ook in ’n tweede opsig het Christus die man op ’n veel heerliker wyse verhoor as wat hy gevra het. Hy het immers gebid: “Dink aan my wanneer U in u koninkryk kom”.  …  Wanneer – al is dit ver in die toekoms, ver in die verskiet, soos die skinker aan Josef gedink het lank nadat hy uit die gevangenis was.

Maar Jesus antwoord: Vandag, op hierdie selfde dag waarop jy saam met My soveel pyn en smart verduur … vandag sal jy saam met My in die paradys wees.

  1. Daar is egter nog ’n derde opsig waarin die verhoring baie heerliker is as wat in die gebed gevra word. In sy gebed het die misdadiger iets gevra van ’n koninkryk – dat die Here Jesus aan hom moet dink as Hy in sy koninkryk kom.  Maar Jesus antwoord dat hy met Hom sal wees in die heerlike paradys.

Hoe wonderlik en heerlik skitter die verlossingswerk van Christus nie in en deur hierdie misdadiger nie!  Christus verlos hom op daardie oomblik nie uit sy liggaamlike lyde nie, maar Hy bevry hom van skuld en misdade en ken aan hom ’n hemelse saligheid toe in sy eie teenwoordigheid.

Hierdie antwoord van Christus het ook vir ons, gelowiges van vandag, ’n heerlike betekenis.

Hier leer ons dat hoe groot en hoe baie ons sondes ook al mag wees, as ons met opregte berou daaroor na Christus gaan, dan is daar altyd vergewing.

Hier kry ons ook die versekering dat ons swak en sondige gebede wat met skuldbelydenis en berou oor ons sondes in die Naam van Christus tot God gebid word, op ’n veel heerliker wyse verhoor sal word as wat ons maar ooit kan dink.

Ook kry ons hier inligting wat met die siel van die gelowige gebeur na die dood.  Die woord vandag in die antwoord van Christus sê aan ons dat op dieselfde oomblik as die gelowige sterf sy siel gelukkig en behoue by die Here is.  As die kind van die Here hier op aarde sy asem uitblaas, gaan sy siel na die paradys waar dit by Christus is en ’n voorlopige geluk en vreugde sal geniet tot by die wederkoms van Christus.  Dan sal liggaam en siel verenig word en daarna deel kry aan die volle saligheid wat die Here beskik het vir alle berouvolle sondaars.

Hierdie dinge moet ons goed in gedagte hou wanneer gelowige familielede of vriende deur die dood van ons weggeneem word.  Dan moet ons oor hulle nie treur soos die mense wat sonder Christus lewe en daarom geen hoop het nie.  Want terwyl ons treur is hulle gelukkig by Christus in die paradys.

Hoe geweldig ryk is hulle wat in Christus sterwe!

Dit geld egter slegs vir hulle wat waarlik in en met Christus sterwe.  Vir hulle wat Christus met woord of daad verwerp, soos die ander gekruisigde misdadiger, wag die ewige oordeel – al was hulle  miskien ook net soos hy andersins baie naby aan Christus.

Maar vir hulle wat waarlik berou het oor hulle sondes en Christus in hulle gebede smeek om tog ook uit genade aan hulle te dink – vir hulle wat daar ’n heerlikheid wat groter is as wat ’n oog gesien, ’n oor gehoor en in die hart van enige mens ooit opgekom het, wat God deur Christus berei het vir hulle wat Hom liefhet.

This entry was posted in Kerk.