DIE VIERDE KRUISWOORD

HY IS DEUR GOD VERLAAT – ONS NOOIT!

Matteus 27:46:    Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani” Dit is: My God, my God, waarom het U my verlaat?

Met die behandeling van die vierde kruiswoord van Christus kom ons by die diepste dieptepunt van sy swaar en bitter lyde.

Tot dusver is sy lyde tot ’n groot mate veroorsaak deur die toedoen van mense, hoewel Hy natuurlik ook daarin gedurigdeur die swaar drukking van die toorn van God oor die sonde gevoel het.  Maar as dit dan vir drie ure oor Golgota en die hele land donker word, dan is dit asof alle mense op die agtergrond geskuif word sodat God alleen met Hom te doen het as Hy sy toorn en woede oor die sonde op sy Seun uitgiet.

Nou moet ons dit heel aan die begin baie duidelik stel dat ons die volle inhoud en betekenis van hierdie kruiswoord nooit sal kan deurgrond nie. Hier duik vrae op waarop geen mens, ook nie die knapste en skerpsinnigste geleerde binne of buite die teologie, bevredigende antwoord kan gee nie.  Hier word in ’n sekere sin alle menslike gedagtes verwar.

Tog is daar in hierdie vierde kruiswoord genoeg wat ons wel kan verstaan en dit bied aan ons ’n heerlike troos en bemoediging.

Christus spreek hier sy vreeslike nood uit met die woorde van Psalm 22.  In hierdie psalm is Dawid aan die woord.  Hy voel eensaam en verlate, nie net deur mense nie, maar veral deur God.  So voel Dawid, en tog blyk dit baie duidelik uit die psalm dat hy nie werklik deur God verlaat is nie.  God het Dawid vir ’n oomblik sy heerlike, vertroostende en versterkende nabyheid maar net nie laat voel en ervaar nie, maar tog is God nog by hom.

Met Christus is dit egter heeltemal anders gesteld.  As Hy die woorde van Psalm 22 uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” dan voel dit nie maar net vir Hom of God Hom verlaat het nie, maar dan het God Hom werklik verlaat.  Hy spreek dan ’n konkrete werklikheid uit.

Hoe moet ons dit verstaan dat Christus wat nie net waaragtige mens is nie maar ook waaragtige God, kon kla dat God Hom verlaat het?  Sou hierdie uitspraak miskien beteken dat sy goddelike natuur van sy menslike natuur geskei het sodat Hy slegs as mens die vreeslike lyde moes deurworstel?

Nee, so moet ons dit nie verstaan nie, want sy goddelike natuur en sy menslike natuur kan nie van mekaar geskei word nie.  Bowendien sou Hy nooit die versoening vir ons kon bewerk en die smarte van die hel kon deurworstel as Hy net as mens gely het nie – al was Hy ook ’n sondelose mens.  Sy godheid moes Hom juis in staat stel om die swaar toorn van God oor die sonde te dra.  Ook in hierdie donker ure was Hy Immanuel: God by ons.  Ook toe was Hy: God geopenbaar in die menslike natuur.  Ook toe was Hy waaragtige God en waaragtige mens.

Hoe moet ons dit dan verstaan dat Christus deur God verlaat is?

Ons moet die negatief en positief verstaan.

Negatief het dit daarin bestaan dat die Vader Hom in sy liefdevolle gemeenskap van Christus teruggetrek het.  Al die gunste en gawes waarin God die mens laat deel, het die Vader Hom ontneem.  Die son is weg.  Hy word tot skande gemaak.  Mense het teenoor Hom soos dierlike monsters opgetree en Hom met vreesaanjaende wreedheid behandel en … God het hulle daarin nie verhinder nie maar hulle laat begaan.  Die engele is teruggehou om Hom nie te versterk nie.  Die Heilige Gees het Hom nie vertroos nie.

Watter mens sal ooit kan beskryf of verduidelik wat dit sou beteken as God sy gemeenskap en al sy seëninge geheel en al van iemand terugtrek?  Geen pen kan dit beskryf nie.  En juis dit het hier met Christus gebeur.  Die terugtrekking van sy Vader het die diepste geestelike vereensaming en verskriklikste innerlike pyniging vir Hom veroorsaak.

Niemand, selfs nie die grootste goddelose, is hier op aarde so geheel deur God verlaat soos Christus aan die kruis was nie.  Selfs oor sulke goddelose mense laat God nog sy son skyn.  God gee nog aan hulle vreugde.  God gee gewoonlik ook aan hulle krag en gesondheid sonder liggaamlike pyn.  God laat hulle deel in die gemeenskap met mense.  Maar dit alles en baie, baie meer moes Christus mis toe die Vader Hom en al sy liefde van Christus teruggetrek het.

Hy wat eintlik net kon lewe in die liefde en gemeenskap met die Vader – Hy moet nou ondervind: my Vader onttrek Hom met al sy seëninge en liefde aan My. My Vader wil My nou nie ken nie.  My Vader stoot My van Hom af weg.

Maar die feit dat Christus deur God verlaat was, het nie net ’n negatiewe betekenis nie.  Dit was baie erger.  Dit het ook ’n positiewe betekenis gehad.

Positief het dit daarin bestaan dat God al sy woede en toorn oor die sonde van die ganse mensdom op Christus uitgegiet het.  God ontbind Satan vir hierdie oomblik sodat Hy en al sy duiwels met al hulle woede van alle kante af op Hom aanstorm.  Dieselfde Christus wat gesê het dat Hy die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val het (Luk. 10:18), moet hom nou as’t ware sien opkom uit die hel … na Hom toe om Hom te versoek en te pynig en Hom van God te probeer losskeur.

Die negatiewe en positiewe betekenis van die feit dat Christus deur God verlaat was, laat ons sien dat Hy werklik aan die kruis die smarte van die hel verduur het.  Diegene wat in die hel is word immers enersyds alle guns, genade, liefde en hulp van God ontneem.  Andersyds is God wel daar teenwoordig, maar dan in sy toorn en woede wat oor hulle brand sodat hulle ’n verskriklike benoudheid en pyn ervaar.

Dit alles het Christus deurgemaak tydens die drie uur duisternis wat Hy aan die kruis gehang het.  En iets van hierdie ontsettende lyde vertolk  Hy as Hy uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Dit is opvallend dat Christus hier sê “my God” en nie “my Vader” nie.

Met sy eerste kruiswoord het Hy nog gepraat van sy Vader toe Hy gesê het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!  (Luk. 23:34).  Ook in die laaste kruiswoord, as die gemeenskap van met God weer herstel is, noem Hy Hom sy Vader as Hy sê: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk. 23:46).  Maar hier waar Hy die liefde en gemeenskap met sy Vader moet ontbeer, hier kan Hy net God sê: “My God, my God”.

Tussen Hom en die Vader is die berg van ons sonde en ongeregtigheid ingeskuif en Hy sou sy Vader eers weer as Vader kon aanspreek as Hy hierdie skuld betaal en die straf daarvoor gedra het.

En tog bly Jesus te midde van die helse smarte wat Hy ervaar en ondanks die feit dat die Vader Hom van Hom teruggetrek het, tog nog van sy kant aan sy Vader vashou, want Hy roep uit: “My God, my God.”  God verstoot Hom oor ons sondes, maar Hy laat God nie los nie.  En so toon Hy dat hoewel Hy helse smarte verduur, Hy tog nie in die hel hoort nie, want daar word beslis nie aan God vasgehou nie.  Daar praat niemand van God as my God nie.

Maar omdat Hy selfs te midde van die helse smarte in daardie drie uur duisternis aan God bly vashou het, het Hy oorwin.  So het Hy die geloof tot sy hoogste hoogtepunt gevoer en daarom die Voorloper en Voleinder van die geloof geword (Heb. 12:2).

So was Christus aan God getrou – nie maar net tot die dood toe nie, maar tot die smarte van die hel toe.

Verstaan u iets van hierdie vierde kruiswoord van Christus?  En begryp u veral dat Christus die verskriklike lyde ter wille van ons verduur het – om ons daarvan te verlos?

As u dit in die geloof verstaan en aanvaar, sal u ook besef dat hierdie ontsettende lyde van Christus, soos vertolk in die vierde kruiswoord, vir ons ’n groot bron van troos is.  Hierdie troos word op kostelike wyse saamgevat in ons Kategismus as daar op die vraag oor die helse lyde van Christus geantwoord word: “Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het, my van die helse angs en pyn verlos het” (HK 16:44).

As ek deur die geloof aan Christus behoort, hoef ek die smarte van die hel nie meer te vrees nie.  Ek hoef nie verskrik te word of met angs vervul te word as ek daarvan hoor nie, want ek weet: Christus het dit alles vir my en in my plek gely om my daarvan te bevry.  Daarvan is sy vierde kruiswoord vir my die sekere waarborg.

Hy het deurgegaan wat ek moes deurgaan en daarom is ek nou vry.  Maar daarom moet ek ook voortaan met my hele lewe toon dat ek Hom daarvoor wil dank en eer.

Die tweede betekenis wat ons in die vierde kruiswoord leer, is dat Christus hier aan ons die voorbeeld stel en duidelik toon dat ook ons in ons grootste angs en benoudhede steeds in die geloof aan God moet bly vashou.  Dit gebeur so dikwels dat gelowiges wat deur rampe en teëspoed getref word, gefrustreer raak en begin twyfel en dan in moedeloosheid of selfs in opstandigheid begin vra: is daar werklik ’n God?  Hoe kan Hy ’n God van liefde wees as dit so met my gaan?

Maar dit is ’n verkeerde houding.

Ook in donker dae van swaarkry moet ons kan sê – al kry ons swaar om dit te sê:

Dié God is onse God en Hy

sal tot die dood toe ons gelei.

God is my God en Hy sál my help en my uiteindelik bring na die ewige vreugde.

Die derde betekenis wat hierdie kruiswoord van Christus vir ons het, is dat dit aan ons die heerlike en vertroostende versekering gee dat, omdat Hy deur God verlaat was, ons as vrug van hierdie versoeningswerk van Hom, nimmer en nooit deur God verlaat sal word nie.  Daarom kan ons dankbaar en met sekerheid saam met Dawid in Psalm 9 sê: “En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here.”

Nooit deur God verlaat nie!

Weet u wat dit beteken?

God is by my al die dae van my lewe: in die jeug as ek my voorberei vir die lewe wat voor lê; in die volwassenheid met al sy verantwoordelikhede; maar ook in die ouderdom met sy aftakeling van liggaamlike en geestelike kragte.

God is by my as ek gesond en lewenslustig my werk doen, maar ook as ek siek en swak is en pyn verduur.

God is by my op my huweliksdag, maar ook as ek by die oop graf van ’n geliefde staan.

Al sou ander mense my verlaat en in die steek laat, is ek tog nie werklik eensaam nie, want om Christus ontwil is God altyd by my.  Omdat Christus ook in my plek deur God verlaat was, sal ek nooit deur Hom verlaat word nie en daarom altyd kan vashou aan die versekering wat die Here in Jesaja 41 aan my gee: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.  Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes. 41:10).  Ook in die moeilikste dae en donkerste nagte hoef ek nie soos die Jode in ballingskap te sê: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby “ (Jes. 40:27).  Ook dan kan ek sing:

God ken die pad waarop sy volk moet gaan;
sy oog is dit wat hulle gadeslaan
en met sy lig hul lewenspad bestraal het.

Is dit vir u ook tot troos?  Maak dit u ook bly?

Altyd by die Here; niks kan ons van sy liefde skei nie.

Die betekenisse van Christus se versoeningslyde soos dit uit sy vierde kruiswoord na ons toe kom, is absoluut wonderlik!

Kyk dan in die geloof na Christus wat deur God verlaat was en verkry so die sekerheid en die troos dat u nooit deur God verlaat sal word nie.

This entry was posted in Kerk.