DIE VYFDE KRUISWOORD

Christus se borgtogtelike lyding aan die liggaam

Johannes 19:28 en 29:
Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”  Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan.  Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou.

“Ek is dors”!

Hierdie woorde getuig van die ontsettende liggaamlike lyding wat Christus aan die kruis moes verduur, veral in die drie uur waarin Hy die smarte van die hel moes dra.  Waar die vierde kruiswoord by uitstek getuig van sy verskriklike geestelike lyding toe God Hom verlaat het, daar kom in hierdie kruiswoord sy bomenslike liggaamlike lyding na vore.

By die behandeling van die vierde kruiswoord, het ons gesien dat die Here Jesus in die drie uur duisternis met wat daar gekom het die smarte van die hel gedra het om ons daarvan te verlos.  Maar hierdie lyding van Hom was nie net ’n innerlike, geestelike lyding nie, maar dit was ook ’n liggaamlike lyding, want Hy moes sy volk nie net na die siel nie maar ook na die liggaam van die sonde en sy gevolge verlos.  En een van die felste smarte van die hel, sover dit die liggaamlike lyding betref, is dors.  In ’n sekere sin kulmineer die liggaamlike lyding in die hel in dors.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus lees ons ook dat die ryk man in die hel so ontsettend dors was.  Daarom het hy ook gesmeek dat Lasarus tog die punt van sy vinger in water moes steek en dit op sy tong moes plaas om dit te verkoel, “want” het hy gesê “ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk. 16:24).

Aangesien Christus nou, om ons volkome van sonde en sondeskuld te verlos, al die smarte van die hel moes deurmaak, moes Hy ook liggaamlik tot die uiterste punt daarvan gaan, naamlik daardie ontsettende dors.  Dit het Hy ook inderdaad gedoen.  Daarom is die eerste wat Hy gesê het nadat die drie uur duisternis en helse smarte verby was: “Ek is dors!”

En hoe dors moes Hy nie gewees het nie!

Dink maar net aan die deel van sy dors aan die kruis wat ons kan verstaan.  Vir nagenoeg 16 uur het Hy ’n bitter lyding deurgemaak.  Dit is inderdaad moontlik dat Hy in die tyd niks te drinke gehad net nie.  En juis in dié tyd is die vog uit sy liggaam uitgepers: in Getsemane in sy benoudheid toe sy sweet selfs geword het soos bloeddruppels wat op die grond val; op Gabbata met sy verhoor en geselslae; op Golgota aan die kruis met sy ontsettende pyn en koors en helse smarte.

Eers dan kom die uitroep uit ’n hees-droë keel: “Ek is dors!”

Hierdie uitroep getuig van die onbeskryflike liggaamlike smarte wat ons Heiland om ons ontwil gedra het.  So wou Hy sy geliefdes verlos, nie net van die geestelike lyding van die hel nie, maar ook van die liggaamlike lyding daarvan.

As ons dit besef, dan word dit ook vir ons duidelik waarom Christus die drank wat hulle Hom kort na die kruisiging aangebied het, nie wou drink nie.  Ons lees immers dat hulle Hom toe ’n mengsel van wyn en gal gegee het om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

Nou ontstaan die vraag: Hoekom wou Jesus toe nie drink van die drank wat hulle Hom aangebied het nie maar nou kla Hy dat Hy dors is?   Gee hy dalk met hierdie vyfde kruiswoord van Hom te kenne dat hy ’n fout gemaak het deur nie van dié drank te drink wat Hom aangebied is nie?

Nee, beslis nie.  Hy het toe doelbewus daardie drank geweier net so doelbewus as wat Hy nou iets te drinke vra.

Die saak staan so:  Daardie drank wat hulle Hom kort na die kruisiging aangebied het, die mengsel van wyn en gal, was ’n soort verdowingsmiddel.  Deur die toediening van hierdie drank wou die soldate of hulle offisiere die ontsettende pyn en lyding van die gekruisigdes darem enigsins verlig.  Op die wyse wou hulle darem ’n bietjie menslikheid teenoor die gekruisigdes openbaar.

Maar toe Jesus daardie drank proe, wou Hy dit nie drink nie.

Waarom nie?  Waarom weier Hy dit?

As Jesus op daardie stadium van die verdowingsmiddel gedrink het, sou dit beteken het dat Hy nie die volle lyding wat die straf op die sonde is, sou gedra het nie, want Hy sou te verdoof gewees het om die vreeslike pyn, angs en smart daarvan ten volle te voel en te ervaar.  En dit sou beteken het dat Hy sy kinders nie ten volle sou verlos het nie.

Om waarlik ons Verlosser te wees, moes Hy die lydingsbeker tot die laaste druppel toe leegdrink.  Daar moes nie as gevolg van verdowing ’n paar druppels oorbly wat Hy nie drink nie of wat Hy drink sonder dat Hy dit voel nie.  Nee, Hy moes die lyding van die hel deurmaak presies soos die veroordeeldes dit eenmaal sonder verdowing sal moet deurmaak en soos ons dit sonder verdowing sou moes deurmaak as Hy ons nie daarvan verlos het nie.

Dit is die rede waarom Jesus die drank wat Hom direk na die kruisiging aangebied is, nie wou drink nie.  Hy moes kom tot die uiterste punt van die liggaamlike lyding van die hel wat sy hoogtepunt bereik in die ontsettende dors, en daartoe kon Hy nie kom as Hy die verdowingsmiddel ingeneem het nie.  Daarom het Hy geweier.  Daarom kom Hy ná die drie uur duisternis uit die smarte van die hel uit met die hees uitroep: “Ek is dors!”

Wat Jesus dáár ook na die liggaam gely het, het vir ons ’n geweldige betekenis.

Die belangrikste betekenis van daardie lyding is dat Hy ons op die wyse van die liggaamlike helse benoudheid, pyn en dors verlos het.  En ook daarvoor sal ons Hom nooit genoeg of nooit na behore kan dank nie.

Maar daardie borgtogtelike lyding van Christus kry nie eers vir ons betekenis op die dag as ons te sterwe kom nie, maar dit het nou al, terwyl ons nog hier op aarde is, reeds ’n groot betekenis vir ons.  Dit beteken natuurlik nie dat gelowiges hier op aarde geen lyding meer sal hê nie.  Wat dit wel beteken, is dat Christus op die wyse die krarakter en betekenis van die liggaamlike lyding van die wat in Hom glo, verander het.  Ons kan dit so stel: Christus het deur sy borgtogtelike lyding die elemente van die hel uit ons aardse en liggaamlike lyding weggeneem en ons daarvan verlos.

So ’n verandering van karakter het Christus ook ten opsigte van die dood bewerk.  Sy oorwinning oor die dood beteken nie dat die gelowiges verder nie meer sal sterwe nie, maar dit beteken dat die dood vir hulle nou nie meer ’n poort na die hel is nie maar ’n poort na die ewige lewe.

So is dit nou ook gesteld met ons aardse en liggaamlike lyding.  As Christus nie vir ons die smarte van die hel na die liggaam gedra het nie, dan sou ons elke keer as ons met siekte, pyn, wonde, ensovoorts te doen gekry het, iets van die hel daarin moes voel.  Ek sou moes voel hoe God my elke keer verder van Hom af wegdruk tot Hy my uiteindelik met my dood in die ewige smarte met sy ontsettende dors instamp.

Maar danksy Christus se borgtogtelike lyding in die smarte van die hel ook na die liggaam, is dit nou met die kind van God andersom gesteld.  Nou voel die gelowige as hy lyding en pyn verduur, nie hoe dat die Here hom verder van Hom af wegdruk nie, maar juis hoedat die Here met dié lyding en pyn hom nader aan Hom wil trek en vaster aan Hom wil bind.  Daarom kan Paulus ook sê dat die Here alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet (Rom. 8:28).

Nou verstaan ons ook wat Jesaja bedoel het toe hy profeties van Christus gesê het dat Hy ons lyding op Hom geneem het en ons siektes gedra het (Jes. 53:4).  Hy het dit verander sodat ons nou nie meer die oordeel van God daarin voel nie maar die liefde van God.

Danksy die liggaamlike borgtogtelike lyding van Christus kan ek nou die karakterverandering, die koerswysiging daarvan in my lewe as gelowige sien en ervaar: dit stoot my nie verder van God af weg nie, maar bind my vaster aan Hom met bande van liefde en trou.

Maar nou is die vraag: As Christus aan die begin na die kruisiging die drank wat Hom aangebied is, geweier het, waarom vra Hy nou nadat Hy die smarte van die hel verduur het, iets te drinke?

Die antwoord op die vraag stem tot ’n groot mate ooreen met die verduideliking wat reeds gegee is oor die drank wat Hy geweier het.  Hy vra nou iets om te drinke weer om verdowing te voorkom.

Nadat Hy in die drie uur duisternis die smarte van die hel verduur hê het, was hy ontsettend dors.  Nou het die gevaar bestaan dat Hy as gevolg van die uitputting en dors in gehele of gedeeltelike bewusteloosheid kon insink voordat Hy die borgtogtelike lyding heeltemal voltooi het en … dit mag nie gebeur nie!

Hy het nog ’n taak gehad om te verrig.  Hy moes nog die sesde en sewende kruiswoorde uitspreek tot troos en bemoediging van sy volk.  Bowendien moes Hy nog sterwe, en sy sterwe mag nie iets passief wees soos ons gewoonlik sterwe nie, maar dit moes ’n aktiewe daad van Homself wees.  Hy moes nie bewusteloos in die huis van die dood ingetrek word nie, maar Hy moes welbewus en doelbewus by die deur van die dood instap om die dood as vyand in sy eie huis te gaan oorwin.  Om dit te kon doen het Hy krag nodig gehad, ook liggaamskrag, en dáárom vra Hy nou iets te drinke.  Daarom hyg Hy dit uit: “Ek is dors!”

In sy versoek om iets te drinke op hierdie stadium sien ons dus dat Hy weer verdowing of bewusteloosheid wil voorkom sodat Hy helder en welbewus die pad van lyding tot die einde toe kan loop en die lydingsbeker heeltemal leeg kan drink.

Net soos God eeue tevore aan Simson, wat ook deur ’n geweldige dors oorval is, water gegee het sodat hy kon lewe en die taak wat hy besig was om te verrig nog verder kon uitvoer en afhandel, so moes Christus se dors ook geles word sodat Hy in staat kan wees om sy versoeningswerk te voltooi en ons ten volle van ons sondes te verlos.

Dit gebeur dan ook.

Ons lees dat, ondanks proteste, die soldate ’n spons vol suur wyn gemaak het en dit op ’n hisoptakkie gesit het en Jesus laat drink het.

Nou moet ons goed daarop let dat Jesus nie nou dieselfde drank aangebied word as direk na sy kruisiging nie.  Toe is aan Hom ’n mengsel van wyn en gal aangebied.  Nou word aan Hom net suur wyn gegee.

Hierdie suur wyn was een of ander soldatedrank van dié tyd en dit gee hulle Hom om te drink.  Dit was dus geen verdowingsmiddel nie maar iets wat sy dors moes les en Hom so krag moes gee om sy verdere taak te volbring.  Hy wil die prys wat Hy vir sy bruidskerk moet betaal ten volle betaal.  Daarom vra Hy iets te drinke om dit inderdaad te kan doen.

So het Christus, ons Bruidegom, gely om ons, sy bruid, te verlos.  So het Hy ook die Skrif vervul, want in Psalm 69:22 lees ons: “Vir my dors het hulle my asyn laat drink”.  Hierdie profesie gaan by die vyfde kruiswoord van Christus in vervulling.  Sy lewe en lyding in geheel was immers niks anders as ’n vervulling van die Skrifte nie.

Dit is die betekenis van die vyfde kruiswoord van Christus.  Ook daarin kom sy groot liefde vir ons tot openbaring.

Hy het één kom word met ons dors soos dit uit die sonde gegroei het – om ons daarvan te verlos sodat ons uiteindelik nooit meer dors sal kry nie.  Hy het tog self verklaar: ”Wie van die water drink wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie” (Joh. 4:14).

Ter wille van sy versoeningsdors kan die Bybel afsluit met die heerlike uitnodiging aan ons as ons in die laaste verse van die boek Openbaring toegeroep word: “’Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!”

This entry was posted in Kerk.