GESKIEDENIS VAN DIE KERK

PRESIDENT PAUL KRUGER EN DIE TWEEDE KERKGEBOU VAN DIE GEREFORMEERDE KERK POTCHEFSTROOM

Die tweede kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom het ‘n besondere verbintenis met president Paul Kruger, president van die Suid-Afrikaanse Republiek (later Transvaal). Paul Kruger se besondere band met die Gereformeerde Kerke is baie goed bekend. Hy is op 10 Oktober 1825 op die plaas Bulhoek, naby die hedendaagse Steynsburg,  gebore. Dit was die wêreld van die Doppers. Sy vader was Casper Kruger en sy moeder Elsie Francina Steyn.  Hy is op 19 Maart 1826 te Cradock gedoop as Stephanus Johannes Paulus Kruger, die eerste twee name van sy grootvader Kruger, die derde was die naam van ‘n oom van sy vader, Paulus Steenkamp.

Eerste kerkgebou op 12 Januarie 1867

Reeds in 1853 vind ons dat Paul Kruger en 17 ander ondertekenaars van ‘n “memorie” probleme wil laat bespreek rakende die kerklike omstandighede, waaronder die sing van gesange.  Hierdie saak sou later uitloop op die gebeure van 12 Januarie 1859 toe 15 broeders, waaronder S.J.P. Kruger, gemeenskap met die Nederduitsch Hervormde kerk verbreek het om as ‘n “Vrije Gereformeerde Kerk”, in leer diens en tug volgens die Sinode van Dordrecht 1618/1619,  te bestaan.

Na die ontstaan van die Gereformeerde Kerk in distrik Rustenburg op 11 Februarie 1859, het daar ook ‘n Gereformeerde Kerk in die distrik Potchefstroom op 20 Maart 1859 ontstaan. Die eerste kerkgebou is op 12 Januarie  1867 op Potchefstroom in gebruik geneem en die tweede kerkgebou op Saterdag 23 Januarie 1897.  Met die kerkraadsvergadering op 22 Januarie 1897, artikel 2, word besluit: “Ook wordt met algemeene stemmen besloten, den Staatspresident beleefd te verzoeken, om morgen zijnde Zaterdag een woord in de nieuwe kerk te spreken.”  President Paul Kruger lewer die stigtelike woord by die ingebruikneming van hierdie kerkgebou, met as teks Matteus 25:13.

Tweede kerkgebou 23 Januarie 1897

Tydens die drie en veertigste Algemene Vergadering te Potchefstroom in Januarie 1898, artikel 27, word die besluit van die kerkraad van Pretoria dat President Paul Kruger ‘n stigtelike woord in gemeentes mag spreek, deur die algemene Vergadering goedgekeur. Dit word gedoen op grond van die president se “singulieren gaven.”

Hierop volg ‘n besondere stukkie geskiedenis.  In die kerkraadsnotule van Gereformeerde Kerk Potchefstroom, gehou op 2 Julie 1897, artikel 14, word die volgende navraag ontvang: “Wordt gelezen een brief van ds J.C. Hefer de dato zes en twintig Mei laatsleden, vragende of het ‘groot eiland’ in Vaalrivier aan deze gemeente behoort? Met algemeene stemmen wordt besloten dezen brief slechts voor kennisgeving aan te nemen, en voorlopig geen verder antwoord te geven.” Die rede vir die eienaardige besluit is omdat die Groot Eiland op daardie stadium nog nie amptelik oorgedra is op die gemeente se naam nie.  P.C Grey beskryf die geskiedenis van die eiland no. 13 (Groot Eiland) in sy boek “Eilande in die Vaalrivier. Hierdie betrokke eiland is op 1 Desember 1887, saam met ‘n groot aantal eilande in die Vaalrivier, aan die Suid-Afrikaanse Republiek toegeken, nadat die Oranje-Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Republiek oor die verdeling van eilande in die Vaalrivier ooreengekom het.

Die Uitvoerende Raad van die Suid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) het volgens ‘n skrywe van 27 Julie 1897 eiland nr 13 (Groot Eiland) aan die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom toegeken. Volgens die kennisgewing (5491/1897) wat deur Staatspresident S.J.P. Kruger onderteken is, het die Uitvoerende Raad die besluit op 13 Julie 1897 geneem.  Die Registrateur van Aktes in Pretoria het hierdie eiland op 3 Augustus 1897 (grondbrief 5491/1897) in die naam van die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom geregistreer. Sonder enige bewyse kan dit tog aanvaar word dat president Paul Kruger ‘n besondere rol gespeel het in die toekenning van Groot Eiland aan die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom, enkele maande nadat hy by die ingebruikneming van die die tweede kerkgebou betrokke was.

Hierdie optrede van die Uitvoerende Raad was nie ‘n uitsondering nie. Dit is bekend dat soortgelyke skenkings gemaak is aan byvoorbeeld die Nederduits Gereformeerde Kerk Potgietersrus, die Nederduitsch Hervormde Kerk Potgietersrus en die Gereformeerde Kerk Potgietersrus.  Soortgelyke skenkings van grond is ook aan die NG.Kerk in Potchefstroom en verskeie ander plekke bekend.

Die saak van die groot eiland word volgens artikel 30 na aanleiding van ‘n skrywe van P.J. Schutte, op die kerkraadsvergadering van 13 Augustus 1897 na ‘n kommissie verwys.  Die kommissie beveel op 1 Oktober 1897 (artikel 13) aan om magtiging van die gemeente te vra om die eiland vir  £ 700 (sewe honderd pond) te verkoop. Hierdie toestemming word dieselfde aand met ‘n gemeentevergadering verkry (artikel 29). Tydens die volgende kerkraadsvergadering op 3 Desember 1897, artikel 11, word berig dat die eiland verkoop is “en het geld gedeponeerd in de bank.”

Die totale koste van die tweede kerkgebou was net meer as £ 5,000 (vyfduisend pond) en die bedrag met die verkoop van die grond was ‘n handige meevaller om die kerkskuld te help delg.  Hierdie kerkgebou is gebruik tot 1959, toe ‘n derde kerkgebou in gebruik geneem is. Dit is in 1960 afgebreek.

Bogenoemde mag dalk bloot as ‘n stukkie kultuurgeskiedenis van kennis geneem word. Tog moet ons hier raaksien hoedat Christus in die geskiedenis besig is om sy kerk te vergader, te beskerm en te onderhou. Hier vind ons ‘n voorbeeld van ‘n mooi verhouding tussen gelowiges en owerheid. Wanneer elke mens en in besonder ‘n gelowige volgens Romeine 13  “hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,…”, is dit tot groot seën vir die plaaslike kerke en owerheid. Hierdie verhouding met die owerheid word verder in NGB art 36 baie duidelik omskryf.  Wanneer die owerheid egter ‘n sekulêre owerheid is, word die uitdaging om goeie verhoudings te handhaaf, baie groot  en die versoeking om nie te getuig teen sake wat die eer van God aantas nie, soms baie groter.  Dit mag ons egter nie weerhou om ons roeping met daadkrag uit te leef nie, omdat ons altyd aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense.

Ontstaangeskiedenis van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom

Op 10 Februarie 1859 word tydens die Eerste Algemene Kerkvergadering te Rustenburg 310 lidmate in die register ingeskryf as lidmate van die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek (let wel nie as lidmate van Rustenburg nie). In die lidmateregister kom bo en behalwe lidmate van die distrik Rustenburg, ook 36 lidmate van die distrik Mooirivier en 31 lidmate van die distrik Pretoria voor (GKSAA: Gereformeerde Kerk in de Z.A.R. 1859-1862. 3.1.1). In hierdie register word ‘n geografiese (distrikte) onderskeid gemaak, ‘n aangeleentheid wat van kerkordelike en teologiese betekenis is. Dit word gestaaf deur die res van die notule van die onderskeie vergaderings op Rustenburg tussen 11 en 14 Februarie 1859. Vir die kerklike gebruik van die woorde wyk, distrik en gemeente word u verwys na die boek van ds P.A. Coetzee, p. 42 en verder.

Die notule van 11 Februarie 1859 meld in Artikel 13 dat ‘n ouderling en diaken vir Mooirivier (Potchefstroom) gekies is deur die 36 lidmate van distrik Mooirivier. Die ouderling was P.J.W Schutte en diaken Adr. Venter.

In die notule van die Tweede Algemene Kerkvergadering van 16 April 1859 word verwys na ‘n tweede ouderling en diaken vir die distrik Mooirivier/Potchefstroom. Wanneer en waar is ouderling J.A. Venter en diaken F de Bruin bevestig? Volgens die notule, Artikel 9, is albei van Schoonspruit, distrik Mooirivier. Schoonspruit is ook ‘n kerklike wyk van Mooirivier. Waarop dui dit? Op die totstandkoming van ‘n gemeente Mooirivier iewers tussen 14 Februarie en 16 April 1859?

In sy vyfde rapport aan die Sinodale Kommissie van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk skryf ds. Postma dat hy ‘n ouderling en diaken van Schoonspruit, distrik Mooirivier/Potchefstroom, op 20 Maart 1859 bevestig het (HUA: Nr. 75. Postma, 8 Junie 1859:20). Hierdie naweek was hy besonder bedrywig. Op 19 Maart (Saterdag) was voorbereiding, doop en belydenisaflegging. Die Sondag (20 Maart) is nagmaal bedien en ook kerkraadslede bevestig. Volgens die Algemene doopregister (GKSAA: Gereformeerde Kerk in de Z.A.R., Doopregister: 1856-1860. 4.1.2) word hier drie kinders gedoop: Henri Benjamin Johns (geb. 18 Febr. 1859), Philippina Maria Charlotta du Plessis (geb. 16 Maart 1859) en Erasmus Albertus Venter (geb. 20 Febr. 1859). Hierna vertrek ds. Postma oor Potchefstroom na Vaalrivier (Distrik Mooirivier) en doop 6 kinders op 27 Maart 1859, waarvan 5 kinders van dieselfde ouerpaar. Die oudste kind was Anna Aletta Combrink (geb. 28 Oktober 1845) (GKSAA: Gereformeerde Kerk in de Z.A.R., Doopregister: 1856-1860. 4.1.2).

Die gebeure op 20 Maart 1859 te Schoonspruit, distrik Mooirivier/Potchefstroom met die bevestiging van ‘n tweede ouderling en diaken, belydenisaflegging, nagmaalbediening en doop dui beslis daarop dat die gemeente Mooirivier/Potchefstroom se ontstaansdatum op die laatste as 20 Maart 1859 gestel moet word. Vanuit die bediening van die Woord het ‘n gemeente beslag gekry. Christus vergader sy kerk met Woord en Gees en roep ouderlinge om te regeer. Hier is nie in die eerste plek sprake van kerkstigting of afstigting nie, maar hoe die Christusregering op ‘n plek bedien word.

Ds. DIRK POSTMA SE RAPPORTE AAN NEDERLAND

Ds. Dirk Postma het vanaf sy vertrek uit Nederland op 22 April 1858 gereeld rapporte aan die Sinodale Kommissie van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk gestuur.  In sy dagboek meld hy op 8 Junie 1859 dat hy die vyfde rapport afsluit.  Van hierdie rapporte is gepubliseer in die boek van Ds. Dirk Postma (Jnr) , “De Geschiedenis van de Stichting en Ontwikkeling der Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika” (1905:52-192). Die probleem met bogenoemde publikasie is egter dat die rapporte aangevul word met ander feite en dit soms moeilik is om die oorspronlike te identifiseer.

In die navorsing oor die ontstaan van Gereformeerde Kerk Potchefstroom, wat ook uitgebrei is na die ontstaan van ander gemeentes in die Suid-Afrikaanse Republiek in die jare 1859 tot 1862, is ‘n intensiewe soektog geloods na die oorspronklike verslae. Die soektog is met sukses bekroon toe die verslae opgespoor is in die argief in Utrecht, naamlik  Het Utrechts Archief.  Dit is hier vir 150 jaar veilig bewaar.  Hier volg ‘n opsomming van die rapporte en aanduiding van die tydperk waaroor dit handel:

Eerste rapport vanaf 22 April 1858, gedateer 16 Julie 1858.  Handel oor sy reis vanaf Nederland, aankoms en verblyf in Kaapstad.

Tweede rapport vanaf 21 Julie 1858, gedateer 27 Augustus 1858.  Geskryf in Durban, Natal.

Derde rapport vanaf 1 September 1858, gedateer 9 Oktober 1858. Geskryf in Pietermaritzburg.

Vierde rapport vanaf 10 Oktober 1858, gedateer 3 Desember 1858. Geskryf in Rustenburg. Handel oor sy reis vanaf Pietermaritzburg tot Rustenburg.

Vyfde rapport vanaf 3 Desember 1858, gedateer 8 Junie 1859.  Afgesluit in die distrik Bloemfontein.  Hierdie rapport bevat waardevolle inligting oor tydperk Desember 1858 tot Mei 1859.  Baie insiggewende feite wat die ontstaan van die onderskeie gemeentes in die verskillende distrikte van die Suid-Afrikanse Republiek raak, word hier vermeld.  Op daardie stadium was daar net vier regeringsdistrikte in die Suid-Afrikaanse Republiek, naamlik Rustenburg, Potchefstroom, Pretoria en Zoutpansberg.  Waterberg was nie ‘n distrik nie, maar deel van distrik Pretoria en Lydenburg was ‘n onafhanklike Republiek.

Sesde rapport vanaf 10 Junie 1859, gedateer 5 Augustus 1859.  Kort beskrywing van die gebeure vanaf 10 Junie 1859 tot 5 Augustus 1859.

Sewende rapport:  In die dagboek van Dirk Postma meld hy op 1 Desember 1859 dat hy aan die begin van die maand sy sewende rapport na Nederland gestuur het. “December 1  In’t begin van deze maand naar Nederland verzonden mijn zevende algemeen schrijven” (PV: Band 1:254).  Hierdie rapport is nie opgeneem in die boek van Dirk Postma (Jnr.) nie en ontbreek ook in die verslae in Het Utrechts Archief.  Hierdie betrokke rapport sal handel oor die optrede gedurende Augustus tot einde November 1859.  Dit is juis in die tydperk waar Zoutpansberg en Waterberg vir die eerste keer besoek is.  In die dagboek van ds. Dirk Postma word wel iets meegedeel van sy optrede in die tydperk, maar die rapporte is oor die algemeen meer breedvoerig.  Dit is noodsaaklik om hierdie rapport op te spoor.

Agste rapport:  Dit handel hoofsaaklik oor die bewegings van ds. Dirk Postma in die Vrystaat en Kaapprovinsie.  Die rapport is gedateer 27 Januarie 1860 en geskryf te Middelburg (Kaapprovinsie). Ds. Dirk Postma maak in sy dagboek van 21 Januarie 1860 melding van die rapport (PV: Band 2:2).  In hierdie rapport gee hy kennis dat hy “in het district Burgersdorp” ‘n gemeente gestig het.

Negende rapport:  Hierdie rapport is geskryf te Burgersdorp, gedateer 28 Februarie 1860.  Dit is die enigste van al bogenoemde rapporte wat opgeneem is in die Postma versameling van die GKSA (PV: Band 8/2. Dok. 405:356).

Met die verkryging van afskrifte uit Het Utrechts Archief sal die Postma versameling in die Argief van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aansienlik uitgebrei word, aangesien die stukke aan die Postma versameling geskenk is.

This entry was posted in Kerk.