![]() |
![]() |
Hier volg 'n opsomming van ons gemeente se geskiedenis, geneem uit die feespublikasie 1863 tot 1988. Kontak gerus die kerkkantoor indien jy die boek wil koop. |
![]()
Klein begin
Toe die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 te Rustenburg gestig is, was daar 35 lidmate uit die distrik Mooirivier teenwoordig. Reeds op 11 Januarie 1858 het 15 manne uit die Hervormde Kerk bedank. Tot 1863 sou hierdie lidmate die Wyk Mooirivier van die Rustenburg-gemeente vorm. Dienste is gehou op plase soos Buffelsdoorns (Schuttes), Nooitgedacht (Schoemans), aan die Schoonspruit (Yssels) en ook in privaatwonings in Potchefstroom.
Die koms van ds. Dirk Postma uit Nederland na Suid-Afrika was vir die Gereformeerdes ‘n gebeurtenis van die allergrootste belang. Sy koms spruit voort uit die ontevredenheid van sekere lidmate met die destydse staatskerk, die Hervormde Kerk, veral wat betref die sing van Evangeliese gesange. Hierdie lidmate, met P.J.W. Schutte as een van die leierfigure, het aan die kerk kennis gegee dat hulle “… wenschen te bestaan als eene Vrije Gereformeerde Kerk, overeenkomstig de leer, tucht en dienst der vaderen, zooals die zich te Dordrecht, in de jaren 1618 en 1619 hebben geopenbaard in hunne Nationale Synode …”
So het dit dan gebeur dat ds. Postma die leiding sou neem met die stigting van kerke met Gereformeerde belydenis in ons land. Hy moes veel smaad en hoor verduur, maar hy het rustig voortgegaan. Hy het groot afstande voortgegaan. Hy het groot afstande per perdekar en ossewa afgelê, vergesel van broeders soos P.J.W. (Flip) Schutte en andere. Hy het op sy reise ‘n joernaal gehou. Dit kan vandag in die argief van die Gereformeerde Kerke op Potchefstroom gelees word. Wyle prof. G.C.P. van der Vyver het ‘n baanbrekerwerk oor vader Postma geskryf wat op talle plekke soos ‘n storieboek lees.
Op 6 November 1859 kom Postma op P.W.J. Schutte se plaas Buffelsdoorn aan en Sondag die 7e, hou hy hier die eerste diens in Transvaal. Hier is die fundament van ons gemeente gelê.
By die stigting van die Gereformeerde Kerk Rustenburg is P.J.W. Schutte as ouderling en P.A. Venter as diaken vir die Wyk Mooirivier bevestig. Op herderlike reis hierna het Ds. Postma by die eerste kerkgeleentheid te Schoonspruit nog twee kerkraadslede bevestig: ouderling J.A. Venter en diaken T.J. de Bruin. Op Potchefstroom moes Postma sy diens in ‘n woonhuis hou aangesien die gebruik van die Hervormde kerkgebou hom geweier is omdat hy nie gesange wou laat sing nie. Op hierdie reis van Postma het die getalle van Gereformeerde lidmate vinnig aangegroei hoewel die owerheid sy bes gedoen het om die afskeiding ongedaan te maak. Landdros Steyn van Potchefstroom het selfs die vrees uitgespreek dat die Republiek as gevolg van die afskeiding in ‘n godsdiensoorlog gedompel kon word.
Lidmate van die Gereformeerde Kerk het hulle beywer
vir die afskaffing van die staatskerk. Hulle wou hulle verpligte
bydraes aan die kerk laat oorplaas na hule eie kerk en ook huweliksgebooie
in hul eie kerk laat afkondig. Die pogings van hierdie afgeskeie
lidmate het die landdros van Potchefstroom so kwaad gemaak dat hy
op 15 Junie 1862 aan Flip Schutte ‘n brief geskryf het waarin
hy o.a. gedreig het om die weduwee Lombaard se huis te laat afbrand
as ds. Postma sou voortgaan om daar kerk te hou. Hy het selfs op
die dag van die diens ‘n kanonnetjie laat regtrek op die suidelike
hoek van ons kerkterrein om genoemde huis plat te skiet. Ds. Postma
het egter rustig voortgegaan met die diens en toe dit verby was,
was die kanon ook skoonveld.
ADRES:
Kerkstraat 33
Potchefstroom
DIENSTYE:
September tot April
09:30 en 18:30
Mei tot Augustus
09:30 en 18:00
PREDIKANT:
Ds PA Coetzee
Tel: 018 290 6778
KERKKANTOOR:
Betsie Coetzee
018 294 4600
WEBSPAN:
Webmeester
Dirk Kruger
Preekopname
Hessel Turkstra
TUISBLAD
| PREDIKANT | GESKIEDENIS
| PREKE | KALENDER
| FOTO ALBUM | BYBELSKOOL
BYBELSTUDIE | JEUG
| GEMEENTE-AKSIES | KLEIN
KERKIE | OP DIE KERKWERF
DIENSOOREENKOMS MET CACHET | SKAKELS
| KONTAK ONS
Gereformeerde Kerk Potchefstroom 2008-2010
23 Augustus 2010