Op 10 Februarie 1859 word tydens die Eerste Algemene Kerkvergadering te Rustenburg 310 lidmate in die register ingeskryf as lidmate van die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek (let wel nie as lidmate van Rustenburg nie). In die lidmateregister kom bo en behalwe lidmate van die distrik Rustenburg, ook 36 lidmate van die distrik Mooirivier en 31 lidmate van die distrik Pretoria voor (GKSAA: Gereformeerde Kerk in de Z.A.R. 1859-1862. 3.1.1). In hierdie register word ‘n geografiese (distrikte) onderskeid gemaak, ‘n aangeleentheid wat van kerkordelike en teologiese betekenis is. Dit word gestaaf deur die res van die notule van die onderskeie vergaderings op Rustenburg tussen 11 en 14 Februarie 1859. Vir die kerklike gebruik van die woorde wyk, distrik en gemeente word u verwys na die boek van ds P.A. Coetzee, p. 42 en verder.
Die notule van 11 Februarie 1859 meld in Artikel 13 dat ‘n ouderling en diaken vir Mooirivier (Potchefstroom) gekies is deur die 36 lidmate van distrik Mooirivier. Die ouderling was P.J.W Schutte en diaken Adr. Venter.
In die notule van die Tweede Algemene Kerkvergadering van 16 April 1859 word verwys na ‘n tweede ouderling en diaken vir die distrik Mooirivier/Potchefstroom. Wanneer en waar is ouderling J.A. Venter en diaken F de Bruin bevestig? Volgens die notule, Artikel 9, is albei van Schoonspruit, distrik Mooirivier. Schoonspruit is ook ‘n kerklike wyk van Mooirivier. Waarop dui dit? Op die totstandkoming van ‘n gemeente Mooirivier iewers tussen 14 Februarie en 16 April 1859?
In sy vyfde rapport aan die Sinodale Kommissie van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk skryf ds. Postma dat hy ‘n ouderling en diaken van Schoonspruit, distrik Mooirivier/Potchefstroom, op 20 Maart 1859 bevestig het (HUA: Nr. 75. Postma, 8 Junie 1859:20). Hierdie naweek was hy besonder bedrywig. Op 19 Maart (Saterdag) was voorbereiding, doop en belydenisaflegging. Die Sondag (20 Maart) is nagmaal bedien en ook kerkraadslede bevestig. Volgens die Algemene doopregister (GKSAA: Gereformeerde Kerk in de Z.A.R., Doopregister: 1856-1860. 4.1.2) word hier drie kinders gedoop: Henri Benjamin Johns (geb. 18 Febr. 1859), Philippina Maria Charlotta du Plessis (geb. 16 Maart 1859) en Erasmus Albertus Venter (geb. 20 Febr. 1859). Hierna vertrek ds. Postma oor Potchefstroom na Vaalrivier (Distrik Mooirivier) en doop 6 kinders op 27 Maart 1859, waarvan 5 kinders van dieselfde ouerpaar. Die oudste kind was Anna Aletta Combrink (geb. 28 Oktober 1845) (GKSAA: Gereformeerde Kerk in de Z.A.R., Doopregister: 1856-1860. 4.1.2).
Die gebeure op 20 Maart 1859 te Schoonspruit, distrik Mooirivier/Potchefstroom met die bevestiging van ‘n tweede ouderling en diaken, belydenisaflegging, nagmaalbediening en doop dui beslis daarop dat die gemeente Mooirivier/Potchefstroom se ontstaansdatum op die laatste as 20 Maart 1859 gestel moet word. Vanuit die bediening van die Woord het ‘n gemeente beslag gekry. Christus vergader sy kerk met Woord en Gees en roep ouderlinge om te regeer. Hier is nie in die eerste plek sprake van kerkstigting of afstigting nie, maar hoe die Christusregering op ‘n plek bedien word.
Ds. DIRK POSTMA SE RAPPORTE AAN NEDERLAND
Ds. Dirk Postma het vanaf sy vertrek uit Nederland op 22 April 1858 gereeld rapporte aan die Sinodale Kommissie van die Christelik Afgeskeie Gereformeerde Kerk gestuur. In sy dagboek meld hy op 8 Junie 1859 dat hy die vyfde rapport afsluit. Van hierdie rapporte is gepubliseer in die boek van Ds. Dirk Postma (Jnr) , “De Geschiedenis van de Stichting en Ontwikkeling der Gereformeerde Kerk in Zuid Afrika” (1905:52-192). Die probleem met bogenoemde publikasie is egter dat die rapporte aangevul word met ander feite en dit soms moeilik is om die oorspronlike te identifiseer.
In die navorsing oor die ontstaan van Gereformeerde Kerk Potchefstroom, wat ook uitgebrei is na die ontstaan van ander gemeentes in die Suid-Afrikaanse Republiek in die jare 1859 tot 1862, is ‘n intensiewe soektog geloods na die oorspronklike verslae. Die soektog is met sukses bekroon toe die verslae opgespoor is in die argief in Utrecht, naamlik Het Utrechts Archief. Dit is hier vir 150 jaar veilig bewaar. Hier volg ‘n opsomming van die rapporte en aanduiding van die tydperk waaroor dit handel:
Eerste rapport vanaf 22 April 1858, gedateer 16 Julie 1858. Handel oor sy reis vanaf Nederland, aankoms en verblyf in Kaapstad.
Tweede rapport vanaf 21 Julie 1858, gedateer 27 Augustus 1858. Geskryf in Durban, Natal.
Derde rapport vanaf 1 September 1858, gedateer 9 Oktober 1858. Geskryf in Pietermaritzburg.
Vierde rapport vanaf 10 Oktober 1858, gedateer 3 Desember 1858. Geskryf in Rustenburg. Handel oor sy reis vanaf Pietermaritzburg tot Rustenburg.
Vyfde rapport vanaf 3 Desember 1858, gedateer 8 Junie 1859. Afgesluit in die distrik Bloemfontein. Hierdie rapport bevat waardevolle inligting oor tydperk Desember 1858 tot Mei 1859. Baie insiggewende feite wat die ontstaan van die onderskeie gemeentes in die verskillende distrikte van die Suid-Afrikanse Republiek raak, word hier vermeld. Op daardie stadium was daar net vier regeringsdistrikte in die Suid-Afrikaanse Republiek, naamlik Rustenburg, Potchefstroom, Pretoria en Zoutpansberg. Waterberg was nie ‘n distrik nie, maar deel van distrik Pretoria en Lydenburg was ‘n onafhanklike Republiek.
Sesde rapport vanaf 10 Junie 1859, gedateer 5 Augustus 1859. Kort beskrywing van die gebeure vanaf 10 Junie 1859 tot 5 Augustus 1859.
Sewende rapport: In die dagboek van Dirk Postma meld hy op 1 Desember 1859 dat hy aan die begin van die maand sy sewende rapport na Nederland gestuur het. “December 1 In’t begin van deze maand naar Nederland verzonden mijn zevende algemeen schrijven” (PV: Band 1:254). Hierdie rapport is nie opgeneem in die boek van Dirk Postma (Jnr.) nie en ontbreek ook in die verslae in Het Utrechts Archief. Hierdie betrokke rapport sal handel oor die optrede gedurende Augustus tot einde November 1859. Dit is juis in die tydperk waar Zoutpansberg en Waterberg vir die eerste keer besoek is. In die dagboek van ds. Dirk Postma word wel iets meegedeel van sy optrede in die tydperk, maar die rapporte is oor die algemeen meer breedvoerig. Dit is noodsaaklik om hierdie rapport op te spoor.
Agste rapport: Dit handel hoofsaaklik oor die bewegings van ds. Dirk Postma in die Vrystaat en Kaapprovinsie. Die rapport is gedateer 27 Januarie 1860 en geskryf te Middelburg (Kaapprovinsie). Ds. Dirk Postma maak in sy dagboek van 21 Januarie 1860 melding van die rapport (PV: Band 2:2). In hierdie rapport gee hy kennis dat hy “in het district Burgersdorp” ‘n gemeente gestig het.
Negende rapport: Hierdie rapport is geskryf te Burgersdorp, gedateer 28 Februarie 1860. Dit is die enigste van al bogenoemde rapporte wat opgeneem is in die Postma versameling van die GKSA (PV: Band 8/2. Dok. 405:356).
Met die verkryging van afskrifte uit Het Utrechts Archief sal die Postma versameling in die Argief van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aansienlik uitgebrei word, aangesien die stukke aan die Postma versameling geskenk is.