DIE DERDE KRUISWOORD

CHRISTUS SE VERSORGENDE LIEFDE

Johannes 19:26, 27: Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”  Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

Die kruis van Christus is die teken van sy geweldige liefde vir ons, die skuldige sondaars.

In die eerste drie kruiswoorde word drie verskillende fasette van hierdie liefde van Christus geopenbaar:

  • In die eerste kruiswoord: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”, sien ons sy kruisliefde as vergewende liefde.
  • In sy tweede kruiswoord aan die berouvolle misdadiger langs Hom : “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”, word sy kruisliefde geopenbaar as reddende en verlossende liefde.
  • In die derde kruiswoord sien ons dat sy kruisliefde ook versorgende liefde is, want Hy sê aan sy moeder: “Vrou, daar is u seun”, en aan Johannes: “Daar is jou moeder”.

Ons lees dat die volgende persone by die kruis gestaan het: Jesus se moeder en sy moeder se suster, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena; verder ook die dissipel wat die Here liefdgehad het, naamlik Johannes.

Vir Maria sou dit ’n bitter pyn en smart beteken het om haar Seun daar aan die kruis te sien hang, al wagtende op sy smartlike dood.  Nou word die profesie vervul wat Simeon by die geboorte van Christus uitgespreek het, naamlik dat dié Kindjie die oorsaak sal wees dat daar eendag ’n swaard deur haar siel sal gaan, en dit is presies wat nou gebeur (Luk. 2:35).

As Jesus egter van die kruis af sy moeder en Johannes, sy geliefde dissipel, daar sien staan, praat Hy met hulle – die laaste woorde wat Hy in sy vernedering tot mense sou spreek, want die res van sy kruiswoorde was nie tot mense gerig nie.  Terwyl Hy self hewige pyn en smart verduur, giet Hy oor hierdie twee persone die heerlike vertroosting van sy versorgende liefde uit.

Aan Maria sê Jesus: “Vrou, daar is u seun.”  Daarmee sê Hy eintlik aan sy moeder: Johannes sal voortaan vir u ’n aardse seun wees wat u sal versorg en beskerm.  Gaan woon van nou af in sy huis en hy sal u tot hulp en steun wees.

Terwyl Jesus vir die berouvolle misdadiger ’n woning in die hemel beskik het, beskik Hy vir sy moeder, terwyl sy nog lewe, ’n woning op aarde.

As Jesus daarna aan Johannes sê: “Daar is jou moeder”, gee Hy hom opdrag om Maria in sy huis te neem en vir haar te sorg.  Boonop kan Maria en Johannes mekaar nou ook in hulle droefheid vertroos oor die kruisiging en dood van Jesus.  Hulle teenwoordigheid by mekaar sal juis in hierdie verband geweldig baie vir elkeen van hulle beteken, want hulle verstaan mekaar se leed en smart.

So sorg Jesus vir Maria, maar ook vir Johannes.  Hy wil dat hulle vir mekaar tot hulp en steun sal wees in hierdie tyd van droefheid en rou.  Aan Maria se moederliefde gee Hy ’n voorwerp waaraan sy dit kan verbind.  En Johannes, wat self verder die persoonlike omgang met Jesus soos voor sy kruisiging moet mis, kan nou die deure van sy hart vir haar as moeder oopmaak.

So sorg Jesus vir hulle deur hulle daartoe te bring om vir mekaar te sorg.

Hierdie versorging van Jesus vir sy moeder en sy geliefde dissipel is egter veel meer as ’n blote historiese gebeurtenis ver in die verlede.  Dit het ook vir ons ’n groot en heerlike betekenis. Dit sê aan ons dat soos Jesus destyds vir sy geliefdes gesorg het, so sorg Hy altyd, ook vandag, vir die lede van sy geestelike familie: die lidmate van sy kerk.  Christus het self gesê wie hierdie geestelike familie van Hom is, naamlik almal wat die Woord van God hoor en dit doen (Luk. 8:21).  Vir hulle almal wil Hy ’n versorgende Vriend en Broeder wees wat hulle, in die besondere omstandighede waarin hulle verkeer, wil versorg, nie net met die oog op hulle ewige behoeftes nie, maar ook wat hulle tydelike, liggaamlike en aardse behoeftes betref.  Hy sal hulle op hulle lewensweg nooit alleen en sonder sorg laat nie.

Dit moet ons altyd onthou.

As ons Christus waarlik in die geloof aanneem as die Gesalfde van God wat vir ons in sy onpeilbare liefde gely en gesterf het, en ons Hom van harte dien, kan ons seker wees dat ook u ’n voorwerp van sy versorgende liefde is.

Vir die eensame is Hy ’n metgesel.

Vir die treurende is Hy ’n barmhartige vertrooster.

Vir die sieke is Hy ’n geneesheer.

Vir die weduwee en weeskind is Hy ’n eggenoot en vader.

In die storms van die lewe hou Hy die wag oor ons.

Al is die toekoms vir ons een groot vraagteken, vertrou maar net op Hom.  Hy wat vir Maria en Johannes na liggaam en na siel gesorg het, Hy sal ook vir ons sorg.

Wat ook al oor ons lewe kom, kyk maar net in die geloof na die versorgende Heiland aan die kruis en sê in die geloof: Die Here sal voorsien.  Christus sal sorg.  Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.

Ons moet onsself aan Hom en sy versorgende liefde oorgee.  Ons moet dit doen in die gesindheid van Dawid wat in Psalm 37 verklaar: “Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer” (Ps. 37:5).  Hy self leer ons tog in sy Woord: “Werp al julle bekommernisse op die Here, want Hy sorg vir julle” (1 Pet. 5:7).

Nooit begewe en verlaat Hy sy kinders nie.  Daarby lei Hy op sy tyd sulke mense soos Johannes na ons toe om ons te help en te troos.

Natuurlik plaas hierdie liefde van Christus ook ’n groot verpligting op ons.  Christus het die wat aan Hom behoort, liefgehad tot die einde toe.  Daarom vra Hy ook van ons dat ons Hom met ’n opregte wederliefde moet liefhê tot die einde toe.  Hy vra van ons dat ons na sy Woord moet luister en moet doen wat Hy sê, want alleen hulle wat dit hoor en doen, is sy broer en sy suster vir wie Hy wil sorg.

Hierdie derde kruiswoord van Christus hou egter nog meer in as wat in die voorgaande stel is.  Ons sien hier trouens ook hoedat Christus die gemeenskap van die heiliges tot stand bring.

Eintlik is die versorgende liefde waarmee Christus Maria en Johannes aan mekaar verbind alreeds die vrug van sy lyde en sterwe aan die kruis.

Ons lees in die Nagmaalsformulier dat Hy van God verlaat was sodat ons nooit meer deur Hom verlaat sou word nie.  Net so kan ons sê dat Christus alle bande waardeur Hy aan mense gebind was, moes verbreek om alleen, sonder die hulp en troos van mense te kon ly, sodat Hy die gevolge van die sonde wat ook in liefdeloosheid teenoor mekaar geopenbaar word, kon dra maar dan met die doel om vir ons weer die onderlinge liefde vir mekaar en die gemeenskap van die heiliges te verwerf.  En die onderlinge hulp van Maria en Johannes aan mekaar was eintlik niks anders as die gemeenskap van die heiliges nie.

Om dit egter te kon bereik, moes Jesus ook alle liefdesbande wat Hom aan mense gebind het, afbreek sodat Hy die smarte van die hel, wat ook in verskriklike eensaamheid bestaan, ten volle kon dra.  En juis in hierdie derde kruiswoord sien ons hoe Hy alle bande losmaak wat Hom aan mense bind.  Daarom spreek Hy Maria hier ook aan as “vrou” en nie as “moeder” nie.  Op die wyse doen Hy afstand van die bloedband, die vleeslike band wat Hom aan Maria gebind het.

Ons weet dat die dood altyd bande verbreek, bande met man, vrou, kind en familie.  Maar omdat Jesus se dood nie iets was wat Hy passief ondergaan het soos ons as ons sterwe nie, maar ’n aktiewe daad van Homself, daarom breek Hy self die bande wat Hom bind.

Deur aan Maria as “vrou” aan te spreek, beëindig Hy die moeder-kind-verhouding waardeur Hy gebind was.  Van nou af sal Maria vir Jesus niks anders wees nie as net ’n vrou, ’n gelowige vrou wat op gelyke voet staan met enige ander gelowige vrou.  En Jesus sal vir haar nie meer ’n kind wees nie, maar haar Borg en Saligmaker net soos die vir enige ander gelowige.

So breek Jesus deur hierdie kruiswoord alle menslike bande af waardeur Hy gebind was en waardeur Hy troos en bemoediging kon ontvang.  Hy breek die moeder-kind band en stuur Johannes saam met sy moeder weg van die kruis sodat Hy in die vreeslike eensaamheid van helse smarte die gemeenskap van die heiliges, die gemeenskap van onderlinge liefde vir sy kinders kon verwerf, en… in hierdie gemeenskap van die heiliges kon Maria en Johannes nou al deel.

Wat is die gemeenskap van die heiliges nou eintlik?

Volgens ons Kategismus het ons hier met twee sake of eintlik met ’n twee-eenheid te doen: dit beteken allereers om aan Christus gebind te wees met ware geloof en liefde.  Maar verder beteken dit dat die wat so aan Christus gebind is, ook aan mekaar gebind word sodat hulle hulle talente en gawes tot nut en saligheid van die ander moet aanwend.  En dit is ook presies wat tussen Maria en Johannes gebeur.  Beide van hulle was reeds op ’n heel besondere wyse aan Jesus verbind en daarom bind Jesus hulle nou ook aan mekaar om in die gemeenskap van die heiliges mekaar te help, te ondersteun en te versorg.

Hieruit is dit ook duidelik waarom Jesus die sorg van sy moeder nie aan een van sy broers na die vlees opgedra het nie, want uit die Skrif weet ons dat hulle op hierdie stadium nog nie in Jesus geglo het as die Messsias, hulle Redder en Saligmaker nie (Joh. 7:5). Eers later het hulle in Hom geglo.

As Jesus op hierdie stadium dit aan hulle opgedra het om vir hulle moeder te sorg, sou dit ’n verbintenis buite die gemeenskap van die heiliges gewees het en daarom het Hy dit nie gedoen nie.  Daarom verbind Hy in sy sorgende liefde vir Maria en Johannes aan mekaar, want hulle moes mekaar nie slegs liggaamlik versorg nie maar ook geestelik.  So sou Johannes Maria veral moes help om die Gekruisigde nie meer as haar kind Jesus te sien nie maar as Jesus Christus, die Gesalfde van God, haar Verlosser en Heiland.  Hy moes haar dus geestelik help om Jesus as haar kind los te laat en Jesus Christus in die geloof aan te neem.

In hierdie derde kruiswoord kan ons nou sien hoe Christus die gewigtige en belangrike roeping op ons lê om die gemeenskap van die heiliges te beoefen.  Dit beteken dat ons as gelowiges met die middele en talente tot ons beskikking mekaar moet help, opbeur, vermaan, vertroos en bemoedig.  Die Here eis hier van ons dat ons mekaar tot hulp en steun moet wees soos Johannes en Maria mekaar moes help en ondersteun op hulle verdere lewensweg.

Paulus herhaal hierdie selfde opdrag ook as hy aan die Galasiërs skrywe: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus (Gal. 6:2).  Dit is die taak wat Christus Johannes en Maria teenoor mekaar opgelê het.  Dit is ook die roeping wat op ons as gelowiges teenoor mekaar lê: Dra mekaar se laste!  Sien om na mekaar! Help mekaar!

En onthou dan: Christus het die laste waaronder ons ewig moes versink het in ons plek gedra.  En as dieselfde gesindheid nou in ons is wat daar ook in Christus Jesus was (Fil. 2:5), sal ons ons ook verplig en gedwing voel om mekaar se laste te dra en vir mekaar ’n Maria an ’n Johannes te wees.

Die probleem is dat die gemeenskap van die heiliges waarin ons om Christus ontwil na mekaar se belange moet omsien sodat ons mekaar in stoflike en geestelike opsig help, dikwels so dof en vaag is onder ons.  Ons leef gewoonlik maar net vir onsself en verder vir ’n baie klein kringetjie rondom ons.  Maar dan moet ons ook besef dat die rede vir hierdie liefdelose leefwyse alleen daaraan toegeskryf kan word dat ons ver van Christus af lewe.  Die roeping tot die gemeenskap van die heiliges verstaan en vervul ons immers eers reg as ons naby ons Heiland en sy versoeningswerk lewe. Want by sy kruis en in sy gemeenskap word ware liefdesbande en lewensbande gebind wat nooit meer gebreek kan word nie – soos by Maria an Johannes.

Nou kan ons die heerlike troos maar ook die heilige roeping sien wat in die derde kruiswoord tot ons kom.

Dit is ’n troos, want dit verseker ons dat almal wat deur die geloof waarlik broers en susters van die Here is, sy versorgende liefde na liggaam en siel nooit sal ontbeer nie.

Maar dit is ook ’n roeping, want dit eis van ons om, aangedryf deur die liefde van Christus vir ons, na mekaar om te sien en mekaar se laste te dra in die gemeenskap van die heiliges.

This entry was posted in Kerk.